Gedagte vir die dag: ‘Waar is Christus in jou hart?

Kersfees

(Foto: Freestocks/Unsplash)

“Daar was geen ander plek vir Josef en Maria in Betlehem nie. Al die gastekamers en herberge was vol” (Lukas 2:7c)

Skrifgedeelte
Lukas 2:7c

Oordenking
As Josef vandag voor ons deur sou staan en vra of ons dalk plek het waar die Seun van jou God gebore kan word, sou enigeen van ons ons beste kamer vir Hom gereed wou maak. Ons sou net ons mooiste vir Hom wou gee.

Die heerlike is: ons kan steeds. Ons kan elke dag die mooiste van ons harte regmaak vir ons Here. Ons kan ons beste deel van ons tyd, geld en aandag aan Hom gee, Hom prioriteit in ons lewens maak, Hom met ons gawes en talente dien, en Hom met ons lewens vereer. Of ons kan vir Hom sê dat daar nie plek vir Hom in ons lewens is nie, en die stal – die agterkant van ons hart – vir Hom aanbied. Hierdie keuse maak ons elke dag. Wanneer ons dagtaak, verpligtinge en mense al ons “goeie tyd” opslurp, en ons gee aan Hom die laaste vyf minute voordat ons aan die slaap raak, of ons laaste paar sent van die maand, dan sê ons vir Hom dat daar nie plek vir Hom in die eregas-gastekamer van ons hart is nie.

  • Hierdie oordenking verskyn in Net soos jy is deur Milanie Vosloo. Dit word goedgunstiglik deur die Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.