Gedagte vir die dag: Waar is my rots?

stream-flowing-over-rocksPs 69:3 – Ek het weggesak in diep modder waarin ek nie kan staan nie. Ek het in diep waters beland waarin die stroom my meegesleur het.

“Kan ‘n kind van die Here ook depressief raak?” Beslis. Isak de Villiers het gesê depressie is die siekte van ons tyd. Hy vertel in sy gelyknamige boek hoe hy self teen hierdie donker vyand moes stry. “My man is aan depressie dood,” sê ‘n vriendin nadat haar man, ‘n baie toegewyde leraar, in ‘n tyd van akute depressie sy eie lewe geneem het. Hierdie psalm word sewe keer in die Nuwe Testament gebruik om na Christus te verwys. Hoewel dit dus in die eerste plek ‘n beskrywing was van hoe Dawid gevoel het toe dinge vir hom verkeerd geloop het, het dit ook ‘n profetiese boodskap om ons te help verstaan hoe die Here Jesus vir ons gely het. “Gedurende sy aardse lewe het Hy aan God, wat Hom uit die dood kon red, gebede en smekinge geoffer met harde geroep en met trane. En sy gebede is verhoor vanweë sy eerbiedige onderworpenheid aan God” (Heb 5:7).

As ons hierdie psalm lees, kry ons ‘n kykie in Jesus se gebedslewe. As jy ook so voel, kan jy weet dat Christus presies verstaan hoe jy voel. Hy is self daardeur. “Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie” (Heb 4:15). As ons vandag bymekaarkom om Hom te ontmoet, kan ons met vrymoedigheid vir Hom vertel presies hoe ons regtig voel. Hy sal jou deur hierdie tyd kan help.

Gebed: “Here, dankie dat U ons nooit verlaat in donker dae nie, maar dat U ook nou by ons is.”

Bron: Uit die Beek – Attie van Wijk

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.