Gedagte vir die dag: Waarlik sout

soutMatt 5:13 –  “Julle is die sout vir die aarde. Maar as sout verslaan het, hoe kry ’n mens dit weer sout? Dit is niks meer werd nie. Dit word buitekant weggegooi, en die mense vertrap dit”.

Jesus is duidelik oor die lot van sout wat nie regtig meer “sout” is nie: “Dit is niks meer werd nie. Dit word buitekant weggegooi, en die mense vertrap dit” (Matt 5:13). Dié Christene wat hulle roeping as sout vir die aarde nie vervul nie, het net een vooruitsig: om deur die wêreld en die duiwel vertrap te word. In hierdie opsig is daar nie plek vir ʼn swakkeling, ʼn jellievis, ʼn draadsitter nie. Jy is óf sout wat die kwaad teëstaan en oorwin, óf die kwaad en die Bose vertrap jou.

Daar was seker nog nooit ʼn tyd dat Christene en die kerk hierdie woorde van Jesus ernstiger moes opneem as juis vandag nie. Hier dink ek veral aan die Westerse lande met hulle Christelike agtergrond en geskiedenis. Dit is ongelukkig ʼn hartseer werklikheid dat die kerk in die meeste van hierdie lande agteruitgaan – in Europa nog meer as in die VSA. Hierdie tendens is in Suid-Afrika ook aan die toeneem onder die meer Westers georiënteerde deel van ons samelewing. Dit maak die uitdaging vir ons as kinders van die Here, én ons verantwoordelikheid, des te groter.

Dit is egter nie nodig om te dweep nie. Dit is ook nie nodig om te probeer voorgee wat jy nie is nie. Wat wel nodig is, is dat Christene die ware kleure van Christenskap sal wys; dat daar weer oor Bybelse lewenswaardes gepraat en dit uitgeleef en vir ons kinders geleer sal word; en dat “elkeen wat sê dat hy aan die Here behoort, moet wegbreek van die ongeregtigheid” (2 Tim 2:19).

Laat die sout weer waarlik “sout” wees!

Gebed: “Ek maak dít my gebed en begeerte, Here: Laat my waarlik ‘sout’ wees. Amen.”

Outeur: Dr. Isak Burger: President van AGS van SA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.