Gedagte vir die dag: Wag in dié tyd op Hom

Argieffoto (Foto: Nikolai Artamonov/Unsplash)

“Here, toe U gepraat het, het ek mooi geluister en elke woord ingeneem. Wat ek gehoor het, het my baie bly gemaak. Here, U is sterker as alles en almal. Dit maak my opgewonde om te weet dat ek aan U behoort” (Jeremia 15:16).

Skrifgedeelte
Jeremia 15:16

Oordenking
Advent-tyd is wag-tyd, skryf Dietrich Bonhoeffer in die vorige eeu. Maar, skryf hy, om te wag is ʼn kuns wat ons ongeduldige samelewing vergeet het. Ons moet wag vir die grootste, merkwaardigste, broosste en sagste dinge in die lewe: niks gebeur in ʼn haas nie, maar alleenlik volgens die wette van die natuur van ontkieming en groei.

ʼn Mens kan bykans nie glo dat hierdie woorde in die vorige eeu geskryf is nie. Was mense toe al ongeduldig? Was “om te wag” in daardie heelwat stadiger tydvak ook so moeilik? Klaarblyklik is die kuns om met rustigheid op die werklik belangrike dinge te wag, iets wat mense maar sukkel om aan te leer. Dit terwyl die natuur steeds sy eie, magiese ritme behou, en na al die eeue steeds onverpoos die mooiste skoonheid te voorskyn bring.

Kom ons vra die Gees om ons te leer om met rustigheid te wag dat Hy ons sal aanraak, en om lank genoeg stil te word dat die ware wonder van Kersfees werklik in ons harte kan tuiskom.

  • Hierdie oordenking verskyn in Net soos jy is deur Milanie Vosloo. Dit word goedgunstiglik deur die Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.