Gedagte vir die dag: Wanneer gebeur die wonderwerk

Skrif: “Maar die vrou kom kniel voor Hom en sê: ‘Here, help my!’ Hy sê vir haar: ‘Dit is nie mooi om die kinders se brood te vat en vir die hondjies te gooi nie’”. (Matt 15:25-26).

Ten spyte daarvan dat dit lyk of Jesus die rug op hierdie vrou draai, het sy skynbaar vir haarself gesê: “Ek sal nie aanstoot neem en my opruk omdat ek nie ʼn antwoord gekry het nie. Ek sal my nog verder verneder, hier in die stofstraat van Tirus.”

Dink aan hierdie ongewone toneel: ʼn Vrou, ʼn heiden, kniel in die stof voor ʼn Joodse man neer. Sy verbreek alle grense en beperkings. Haar woorde is nou min. Diepe smart het immers nie baie woorde nodig nie: “Here, help my!” (Matt 15:25). Die getal woorde in ons versoeke aan die Here is dikwels ʼn teken van die intensiteit en omvang van ons smart en nood. Wanneer die smart regtig groot word, word die verootmoediging meer intens, en die woorde dikwels minder.

Met so ʼn groot versoek en so ʼn volhardende geloof, sou ʼn mens sekerlik ʼn deernisvolle respons van Jesus verwag. Maar sy woorde laat ʼn mens steier; dit wil jou as ’t ware in verontwaardiging en teleurstelling laat wegstap: “Dit is nie mooi om die kinders se brood te vat en vir die hondjies te gooi nie” (Matt 15:26).

Wat sy van Hom gehoor het en nou ondervind, is twee verskillende dinge! Waar is die genade en barmhartigheid, die medelye vir mense wat swaar kry, al sy liefdevolle eienskappe waarvan sy hier in haar land gehoor het? Om darem deur Hom ʼn hondjie genoem te word! Maar wag, moenie te gou ontmoedig word nie. Jesus het ’n doel met alles wat hier gebeur. Christus is besig om sy dissipels, en vir my en jou, ʼn belangrike les in geloofs- en gebedsvolharding te leer.

Gebed: “Dankie vir ʼn voorbeeld wat my die moed gee om nie tou op te gooi nie, Here. Amen.”

 Outeur: Dr. Isak Burger: President van AGS van SA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.