Gedagte vir die dag: Wanneer jy nie haastig is om te vergewe nie

Lukas 6:27 – “Jy moet jou vyande liefhê en bid vir die wat jou vervolg.”

Die wêreld is nie altyd ʼn mooi plek om in te wees nie. Met CNN wat die wêreld in al sy smartlikheid na ons sitkamer en binnekamer toe bring, kan ons nie anders as om bewoë te wees oor wat alles op Gods aarde gebeur nie. Ons sien hoe mense mekaar met haat en wreedheid kasty. Vir ander word hulle reg op veiligheid en beskerming van hulle weggeruk deur misdadigers wat geen genade toon nie. En glo my dit gebeur nie net in Suid-Afrika nie.

By ʼn onlangse begrafnis van ʼn kind wat in ʼn misdaadvoorval vermoor is, het die oupa van die dogtertjie langs die graf gestaan en gesê: “Ek gaan nie haastig wees om te vergewe nie.” Om sulke verfoeilike dade te vergeef skyn amper onmoonlik te wees. Met ons menslike instink wil ons sê: “Ek sal jou nooit vergewe nie!” Tog beveel God ons om dit te doen.

Wat is vergifnis? Dis is ʼn besluit – ʼn geloofskeuse in opdrag van God – om nie iemand se sonde teen hom of haar te hou nie. “Maar Here, U weet nie hoe erg dit vir my is nie!” skree ons ten hemele. God weet juis hoe erg dit is; Hy het sy Seun wat elke oortreding van die mensdom op hom geneem het, sien sterf aan ʼn kruis – sy Seun wat self gesê het: “Jy moet jou vyande liefhê en bid vir die wat jou vervolg” Lukas 6:27. Hoekom? Hoekom is dit so belangrik vir God dat ons moet vergewe wanneer alles binne in ons skree: “Ek sal jou nooit vergewe nie!” Ons het geen keuse as om te vergewe nie omdat haat die kiem van ons eie vernietiging in hom dra.

Aartsbiskop Tutu stel sy perspektief op vergifnis so: “Om te vergewe is nie noodwendig ʼn onselfsugtige daad nie. Dis waarskynlik die beste vorm van eiebelang,” want om te weier om te vergewe gee die persoon wat jou te na gekom het ʼn houvas op jou omdat hy jou met haat en woede vul. En so word jy ʼn dubbele slagoffer.

Gebed:Here leer ons om in ʼn ongenadige wêreld waar die wet van ʼn oog vir ʼn oog, en ʼn tand vir ʼn tand geld, die voorbeeld van u Seun wat ter wille van ons oortredinge aan ʼn kruis gesterf het na te volg. Amen

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-‘n-dag

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.