Gedagte vir die dag: Wanneer seën in vloek verander

20131122192924_60639_bigMark 2:1 – “Toe Jesus ná ʼn paar dae weer in Kapernaum kom, het dit bekend geword dat Hy by die huis is”.

Kapernaum was in die tyd van Jesus se openbare bediening die dorp waar Hy gewoon en vanwaar Hy gewerk het (Matt 4:13). Die meeste van sy wonderwerke het Hy daar en in daardie omgewing gedoen. Hy word genoem “Jesus van Nasaret” omdat Hy in Nasaret grootgeword het, maar “Jesus van Kapernaum” sou ook ʼn heel gepaste beskrywing vir Hom kon wees.

Geen dorp se mense was meer bevoorreg nie. Niemand het meer van Hom gesien en meer van Jesus gehoor as die mense van Kapernaum nie. Hoe gelukkig was hulle nie! Tog sou dit later blyk dat hierdie voorreg teen hulle tel. Jesus sélf het by geleentheid gesê: “En jy, Kapernaum, dink jy ‘jy sal tot die hemel toe verhoog word? Nee, jy sal tot in die doderyk afdaal.’ As in Sodom die wonderdade plaasgevind het wat in jou plaasgevind het, sou hy tot vandag toe nog bly staan het. Maar Ek sê vir julle: Vir die land van Sodom sal dit in die oordeelsdag draagliker wees as vir jou” (Matt 11:23-24).

Die Bybel stel dit duidelik dat groter geleenthede groter verantwoordelikhede meebring. God verwag méér van dié wat meer ontvang het. Daar wag ’n groter oordeel oor dié wat groter genade verag het. Dit is moontlik dat meer seën later téén jou kan tel; dat seën wat nie benut word nie, later in ʼn vloek kan verander.

Kapernaum se mense sal eendag geen verskoning hê nie. Omdat hulle die wonderlike voorreg van Jesus se teenwoordigheid by hulle en die wonders wat Hy voor hulle oë gedoen het, nie ter harte geneem het en hulle nie bekeer het nie, sal hulle geen verskoning op die oordeelsdag hê nie. Nou wonder ek oor Suid-Afrika en sy mense? Met al ons kerke en Bybels en voorregte – is ons nie dalk in dieselfde bootjie as Kapernaum nie?

Gebed: “Here, laat u seëninge tog nie eendag téén my tel nie! Laat my dit nou waardeer en benut. Amen.”

Outeur: Dr. Isak Burger: President van AGS van SA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.