Gedagte vir die dag: Ware geluk

Man_veld_Bybel_Stiltetyd_.jpg

Foto: teachingthem.com

Maar Hy sê: ‘Nog meer bevoorreg is hulle wat die woord van God hoor en dit onderhou.’ (Lukas 11:28)

Familiestambome was en is baie belangrik vir die Jode, destyds seker nog meer as vandag. Jode doen moeite om hul familielyn terug te trek na hul stamvader Abraham. Die Ou Testament word kort-kort onderbreek met lang geslagsregisters en dit is interessant om te sien waar wie inpas. In die Nuwe Testament word daar wel soms na hierdie registers verwys, maar die enigste een wat in besonderhede aangebied word, is Jesus s’n.

Terug in die Ou Testamentiese tye was belangrike voorgeslagte ’n aanbeveling vir enige man wat ’n groot nageslag wou hê. Vroue is gereken omdat hulle seuns in die wêreld kon bring. Dogters se name is selde in geslagsregis¬ters opgeneem.

Jesus was besig om te praat toe ’n vrou, oorval deur emosie, hardop uit¬geroep het: ‘Hoe bevoorreg is die vrou wat U in haar liggaam gedra en aan haar bors gevoed het!’ (Luk 11:27).

Met sy antwoord het Hy nie bedoel om sy moeder, of moederskap, te verkleineer nie. Hy wou almal daarop wys dat hul verknogdheid aan tradisies hulle nie blywende geluk besorg nie. Die plek waar jou naam in die familiestamboom staan, is nie naastenby so belangrik soos jou gehoorsaamheid aan die Here God nie.

Ons is vandag ook te bewus van ons afkoms en spog graag met gesins- en familielede wat presteer. Ouers reken op hul kinders om op familietradisies voort te bou of uit te blink op gebiede waar hulself nie kon slaag nie. Fami¬lies soos die Ruperts en Oppenheimers dwing respek af en ander soos die Ver¬woerds sukkel om die stigma wat met die van geassosieer word, af te skud.

Jesus sê jou naam en van is nie belangrik vir jou geluk nie.

Dankie Jesus, dat U ons verkeerde waardestelsels omgekeer het en ons die pad na ware lewensgeluk kom wys het.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Koos ·

Nee, andersom. Trots op die Verwoerd van en stigma van die Ruperts en Oppenheimers.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.