Gedagte vir die dag: Ware vergifnis

Matteus 6:14-15
“As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.”
Jesus leer sy dissipels hoe om te bid en gee aan hulle die gebed wat ons almal ken as die “Ons Vader”-gebed. Jesus weet egter dat die deel “en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree” (Matteus 6:12) vir baie, ook vir ons, ‘n struikelblok kan wees. So in ons vers vir vandag, Matteus 6:14-15 verklaar Hy dit vir ons.

Dit is eintlik baie eenvoudig. Ons is almal sondaars wat God se vergifnis nodig het. Ons Vader is bereid om ons al ons sondes te vergewe en om dit te vergeet. Jesus leer ons dat ons egter op ons beurt weer diegene wat teen ons oortree, moet vergewe.

Hy vergewe ons ons sondes, maar ons moet ander mense ook vergewe. Indien ons ander oor dit wat hulle ons aangedoen het, haat en ‘n wrok teen hulle koester, word ons verbitterde mense.

Om te vergewe is nie maklik nie. Dit is in werklikheid een van die moeilikste Christelike deugde om te bemeester. Jy het ongetwyfeld al iemand hoor sê: “Ek kan vergewe, maar ek kan nie vergeet nie.” Dit is egter nodig om nie voortdurend te broei op dit wat iemand jou aangedoen het nie, want solank jy aanhou om daaraan te dink, bly dit onmoontlik om daardie persoon waarlik te vergewe.

Vra die Here om jou te help om êrens in jou brein ‘n plekkie (jou eie “forgettery”) te kan ontwikkel waar jy al jou gedagtes oor dit wat mense jou aangedoen het, kan gaan begrawe. Slegs as ons nie meer voortdurend aan hierdie dinge bly dink nie, sal ons die seëning van ware vergifnis kan beleef.

Gebed: Hemelse Vader skenk aan ons die genade om ander te kan vergewe soos U ons vergewe. In Jesus se Naam. Amen.

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

H J Bester ·

Teen die agtergrond van die verlede asook die samestelling van die samelewing waarbinne ons bly, is dit nogal moeilik om hierdie opdrag van vergifnis uit te voer – en kan mens maar net opreg en met groot erns sonder ophou bid dat God ons die krag sal gee om waaragtig te vergewe.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.