Gedagte vir die dag: Ware vriende

holding handsMark. 2:2–3: Baie mense het daar saamgedrom, sodat daar selfs by die deur nie meer plek was nie. Hy was besig om met hulle oor sy boodskap te praat. Daar kom toe mense wat ʼn verlamde man na Hom toe bring. Vier van hulle het hom gedra.

Ek wens ek kon een van daardie klomp mense gewees het. Hoe het dit gevoel om na Jesus self te luister? Wat het ’n mens ervaar wanneer Hý die Woord van God verkondig en sy boodskap oorgedra het? Dit was so ʼn belangrike deel van sy bediening terwyl Hy op aarde was – om die wonderlike boodskap van lewe, vryheid, blydskap en redding vir mense te kom vertel. Hy het by hierdie geleentheid nie vir die mense gepreek nie. In die grondtaal word ʼn ander woord vir “preek” gebruik. Hy het hierdie keer sommer net met hulle gepraat; rustig gepraat. Hoe wonderlik! Dit moet soos ʼn sagte briesie uit die hemel gewees het.

Dan word sy “diens” skielik onderbreek. Vier mense dra ʼn verlamde man na Hom toe. ʼn Verlamde man. Dit spreek van totale hulpeloosheid en hopeloosheid. Ek wonder wie dié vier mense was. Was dit familie of vriende? Eintlik maak dit nie saak nie. Die belangrikste was dat hierdie vier mense genoeg vir die verlamde omgegee het om hom na Jesus toe te bring.

Ek hou van mense wat iemand in nood na Jesus toe bring. Dis wáre vriende! Die Engelse spreekwoord sê tereg: “A friend in need is a friend indeed.” Die edelste en mooiste daad van vriendskap is om jou vriend in nood by Jesus uit te bring. Trouens, as gelowige kan my vriendskap met reg bevraagteken word as ek nalaat om my vriende by Hom uit te bring. Dank die Here, dis steeds vir ons moontlik – al is dit deur gebed.

Gebed: Help my, Here. Ek wil ook my “verlamde” vriende na U toe bring. Amen.

Outeur: Dr. Isak Burger: President van AGS van SA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

UT Mijnhardt ·

Doen gou vir my dit . Doen gou vir my dat . Jy moet nou nie dink dat ek jou net gebruik nie . So n gesprek het iemand sekerlik al iewers gehoor .Maar n vriend wat jy nie vir iets kan gebruik nie is seker vir jou niks goed nie , Waarvoor is ek vandag bruikbaar ? Of is ek nou maar die een wat altyd maar die doen gou vir my dit en dat vriend is .?

Johannes_15:13″ Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee.”

Maar hoe word ek dan so n vriend ? Kom ons hoor wat se n vriend van Jesus , wat Hy genoeg vertrou het dat Hy hom die sleutels na Sy koningkryk gee . Handelinge 2:36 Laat dan die hele huis van Israel sekerlik weet dat God Hom Here en Christus gemaak het, hierdie Jesus wat julle gekruisig het.
2:37 Toe hulle dit hoor, is hulle diep in die hart getref en het vir Petrus en die ander apostels gesê: Wat moet ons doen, broeders?
2:38 En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang”.

Rom 5:7″ Want nouliks sal iemand vir ‘n regverdige sterwe vir ‘n goeie mens sal iemand miskien nog die moed hê om te sterwe
Rom 5:8 maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.
Rom 5:9 Veel meer dan sal ons, nou dat ons geregverdig is in sy bloed, deur Hom gered word van die toorn.
Rom 5:10 Want as ons, terwyl ons nog vyande was, met God versoen is deur die dood van sy Seun, veel meer sal ons deur sy lewe gered word nou dat ons versoen is”.

n Vriendskap waar die een vriend altyd die een is wat iets moet gee of gedurig iets moet doen vir die ander mag moontlik uitgeput raak ,n vriendskap is duidelik iets waarin bele moet word. Is ons nie ver agter met bele in ons vriendskap nie ?

Act_4:13 En toe hulle die vrymoedigheid van Petrus en Johannes sien en verstaan dat hulle ongeleerde en eenvoudige manne was, was hulle verwonderd en het hulle as metgeselle van Jesus herken”
.
Kom ons wees daardie vriende wat sigbaar is soos Petrus en Johannes .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.