Gedagte vir die dag: Wat is die geheim van ware geluk en vreugde?

Filippense 3:1 – Verder, my broers, wees bly in die Here!

“Wees bly in die Here” beteken: Laat die Here die een wees wat jou gelukkig maak (wat jou blydskap gee). In die gemeente van Filippi het mense gedink as hulle stiptelik volgens die wet leef, dan sal hulle gelukkig wees. As ʼn mens so dink impliseer jy dat die verlossingswerk van Christus aan die kruis tevergeefs was (Galasiërs 2:21). Christus het juis gekom om vir ons skuld te betaal omdat ons, vanweë ons onvolmaaktheid, nie presies kan lewe soos die wet dit verwag nie. Om die gebooie van die Here na te kom, is nie ʼn vereiste om gered te word nie. Dit maak die gebooie nie onbelangrik nie, want nou leef ons daarvolgens om vir die Here ons dankbaarheid te wys omdat Hy ons verlos het. Filippus wil die gemeente leer dat dit nie die nakoming van die gebooie is wat hulle ware geluk sal gee nie, maar dat alleen Jesus vir hulle werklike geluk en blydskap kan gee.

Mense soek hulle geluk in baie verskillende dinge. Baie sal dit soek in die sukses van hulle beroep, die dikte van hulle beursie of die prestasie van hulle kinders. Ander soek geluk deur baie tyd aan hulle stokperdjie of sport te spandeer. Nie een van die genoemde dinge is onbelangrik nie. Dit is ook goed om daarna te streef om in alles wat jy doen te verbeter. Maar dit maak jou nie ten diepste gelukkig nie. Ware geluk is alleen te vind in die Here Jesus. Ware geluk en ware blydskap van hart is te kry as die Here Jesus jou Alfa en Omega word, as Hy beheer van jou lewe oorneem. Die Bybel praat van die geluk as saligheid. Dit beteken ’n geluk wat nooit ophou of teleurstel nie.

Psalm 37:4 “Vind jou vreugde in die Here en Hy sal jou gee wat jou hart begeer”

Die woord “in die Here” (Filippense 3:1 en Psalm 37:4) beteken dat ons aan Hom verbind is, dat ons een met Hom is. Omdat ons met ʼn baie diep band aan Jesus verbind is, daarom kan ons in sy vrede, vreugde en liefde deel, en gelukkig wees. Miskien is dit vandag nodig dat jy ʼn stil plek soek en nadink oor jou verbondenheid aan Jesus. Is dit nie dalk die geluk wat jy nog altyd soek nie? Jy kan dit kry deur Jesus jou Heer te maak en Hom te volg. Hy wil jou so graag gelukkig sien.

Gebed: Here ek gee my lewe in U hande oor, neem my lewe en gee my die ewige geluk. Amen.

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.