Gedagte vir die dag: Wat laat my kwalifiseer?

kruisMark 1:41 –  “Jesus het hom jammer gekry …” 

Hier vind ons weer daardie woord wat so dikwels in die Evangelies gebruik word om Jesus se innige meegevoel met mense en hulle smart uit te beeld. Die woord “jammer kry” kom van die woord in Grieks wat “ingewande” beteken, en dit dui daarop dat jy die seer van ander diep in jou binneste ervaar – soos wanneer ʼn ma met haar eie oë sien hoe haar kind ernstig beseer word. Dis wanneer jy jou ander se leed so aantrek dat jy self hulle pyn fisiek ervaar. Ons sou ook kon sê: Jesus het die man se pyn ter harte geneem.

Dis belangrik dat ons dit verstaan: Wanneer Jesus iets vir ons doen of gee, is dit nooit omdat Hy ons iets skuld nie. Dit is ook nie omdat ons dit verdien en die Here ons vir iets vergoed nie. Wat Hy ook al vir ons doen, doen Hy uit genade. Hy bewys aan ons sy guns. Wat ons vir sy guns en genade laat kwalifiseer, is nie ons positiewe eienskappe en voortreflikhede nie, maar ons behoefte en ons nood. Dis belangrik dat ons hierdie waarheid sal verstaan: Ons kán die Here se genade nie verdien nie. Ons kan die Here nie omkoop nie. Ons het geen reg om van God iets te eis nie. Dis sy liefde en genade wat Hom daartoe dring om vir ons goed te wees.

In die meeste heidense gelowe geld die Latynse woorde: Do ut des. Dit beteken: Ek sal vir jou gee sodat jy weer vir my kan gee. Hierdie beginsel is dikwels onderliggend aan ons godsdiens. Ons sal sekere dinge doen, sekere wette en godsdienstige verpligtings nakom, en dan op grond daarvan verwag dat die Here vir ons iets sal doen. Nee, dit werk nie só nie. Hy het ons nie lief omdat ons Hom liefhet nie. Ons het Hom lief omdat Hy ons eerste lief gehad het, al was ons sy liefde nie waardig nie.

Gebed: “Dankie dat U genade my ook laat kwalifiseer, Here. Amen.”

Outeur: Dr. Isak Burger: President van AGS van SA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.