Gedagte vir die dag: Wat ‘n vriend het ons in Jesus

holding-handsJohannes 15:13 – Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê.

Joseph Scriven (1819-1896), ‘n Ier, was 25 jaar oud, verlief en het op trou gestaan. In 1845, ‘n dag voor sy troue, het sy verloofde in ‘n trageise ongeluk verdrink. ‘n Gebroke Joseph het besluit om ‘n nuwe lewe in Kanada te begin. Daar het hy weer verlief geraak en het op trou gestaan toe die meisie skielik longontsteking kry en sterf.

In 1855, terwyl hy by ‘n vriend, James Sackville, gebly het, ontvang hy die nuus uit Ierland dat sy moeder ernstig siek is. Hy skryf ‘n gedig, “Bid sonder ophou” om haar te bemoedig. Jy mag dit dalk erken:
Wat ‘n vriend het ons in Jesus,
Hy wat in ons plek wil staan;
wat ‘n voorreg om gedurig
tot Gods troon deur Hom te gaan!
hoe verbeur ons tog die vrede,
ag, hoe dikwels ly ons smart,
net omdat ons nie ons node
uitstort in Gods vaderhart.

Byna 30 jaar later besoek een van sy vriende ‘n ernstige siek Scriven. In sy kamer ontdek hy Scriven se gedigte, insluitende ‘n kopie van die een wat hy aan sy ma gestuur het. Die gevolg van die besoek was dat Scriven se gedigte in ‘n bundel, Hymns and Other Verse, gepubliseer is.

Kort daarna komponeer Charles C Converse een van die gedigte wat ons vandag ken as “Wat ‘n vriend het ons in Jesus”.

Joseph Scriven het ware tragedies in sy leeftyd beleef. Hy is nooit getroud nie, en in sy latere jare was hy baie alleen, sy gesondheid swak, sy finansies karig en hy het aan depressie gely. En tog kon hy met oortuiging skryf: “wat ‘n voorreg om gedurig tot Gods troon deur Hom te gaan!” Hy het geweet dat God vrede kan skenk aan diegene wat Hom soek.

Instede van om mismoedig te word wanneer ons versoekings of probleme beleef, is Scriven se raad dat ons dit eerder deur gebed na die Here toe moet neem.

Onthou vandag dat Jesus jou vriend is. Neem al jou probleme na Hom, maak nie saak hoe groot of onoorkomelik dit vir jou lyk nie. Praat met Hom. Spandeer tyd met Hom. Hy het jou so lief dat Hy vir jou gesterf het!

Gebed: Here Jesus, dankie dat U my vriend is. Help my om U elke dag nog beter te leer ken en U beter te dien. Dankie dat U ook vir my gesterf het. Amen

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-‘n-dag

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dave ·

Baie dankie vir ‘n motiverende skryfwerk.
Alhoewel ‘erken’ ook van pas sou wees, is die skrywer van hierdie artikel waarskynlik een van daardie mense wat nie die verskil tussen ‘erken’ en ‘herken’ erken of herken.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.