Gedagte vir die dag: Wees anders

kneel-before-the-crossEf 4:32 – Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het.

“Daar is families in ons omgewing wat so verdeeld is dat hulle nooit meer met mekaar praat of mekaar groet nie,” vertel ‘n plattelandse leraar. Die oorsaak is soms politiek, soms kerkskeuring, en soms iets wat die een aan die ander gedoen het. Is dit hoe die Here wil hê dat ons moet optree? In baie gevalle is dit Christene wat so maak! Ons vind dit baie moeilik om mekaar te vergewe. Paulus gaan voort om te verduidelik watter verskil die Here Jesus en die Heilige Gees in ‘n mens se lewe maak. Kyk weer na Efesiers 4:31- 32. Is daar so iets in ons lewe? Christene is anders. Hulle lewe in liefde, en reik na ander uit (Ef 5:1). Die Heilige Gees verander ook ons spraak. Ons vertel nie meer vuil grappe net as die dominee nie naby is nie. Die Here is mos altyd naby. Ons buit mense nie meer uit gierigheid uit nie. Ons is nooit ontrou aan ons lewensmaat nie. Ons het geen deel aan buite- huwelikse seks nie (v 5). Mense wat dit doen, kan seker wees dat hulle nie deel is van God se koninkryk nie (v 5). Ons begin vandag met ‘n nuwe week. Orals waar ons gaan beweeg, gaan ons vingerafdrukke nalaat. Maar in elke persoon met wie ons te doen gaan kry, gaan ons ook hartafdrukke nalaat. Ons gaan hom of haar na die Here toe aantrek of van Hom afstoot. Dink ‘n bietjie terug oor die afgelope week. Wat sou ons graag anders wou doen? Ons geloof sal ook hierdie week getoets word. Onthou: Jesus woon in jou deur sy Gees. Wat sou Hy in jou plek gedoen het? Wat wil Hy hierdie week deur jou doen?

Gebed: “Here, wys my waar my optrede u Naam oneer aandoen, en help my om elke dag te verander volgens u wil. ”

Bron: Uit die Beek – Attie van Wijk

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.