Gedagte vir die dag: Wees gereed op die dag van sy koms

Wedding on the beachMatteus 25:13 – Waak dan, omdat julle nie weet op watter dag en uur dit sal gebeur nie.

‘n Bruilof is ‘n vreugdevolle geleentheid. Mense hou daarvan om op hulle spesiale dag in die blydskap van die nuwe egpaar te deel. Jesus het die troue by Kana gebruik om sy eerste wonderwerk te doen. Dit is dus nie ‘n verrassing dat Jesus die gelykenis van die tien meisies by ‘n troue gebruik as Hy sy wederkoms beskryf nie. Dit sal ‘n vreugdevolle geleentheid wees, ‘n tyd om fees te vier.

In die geleykenis word daar beskryf hoe almal in groot afwagting op die koms van die bruidegom wag. Toe hy lank neem om te kom, het die tien meisies moeg geword en aan die slaap geraak. Teen middernag hoor hulle die geroep: “Hier kom die bruidegom! Gaan hom tegemoet!”

Hulle gaan uit in die donker met hulle lampe om die bruidegom na die bruilofsfees te vergesel. Skielik is daar ‘n krisis; vyf van hulle nie genoeg olie in hulle lampe nie.

Hulle vra tevergeefs vir die ander vyf, wat genoeg olie het, om hulle te help. “Nee, daar is nie genoeg vir ons en vir julle nie. Gaan liewer winkel toe en koop vir julle olie,” was die antwoord.

Die vyf meisies wat genoeg olie gehad het ontmoet die bruidegom en gaan saam met hom na die bruilofsfees. Daar aangekom word die deur gesluit. Later kom die ander meisies daar aan: “Meneer, Meneer, maak vir ons oop!” roep hulle. Maar die bruidegom antwoord: “Ek sê vir julle: Ek ken julle nie!”.

Wat leer ons uit hierdie gelykenis?

Al 10 die meisies het geweet dat die bruidegom gaan kom en dat hulle gereed moet wees om hom te ontmoet. Die vyf onverstandige meisies was egter nie voorbereid nie. Alle Christene wag om die bruidegom, Jesus Christus, te ontmoet. Ons weet nie op watter dag en uur Hy gaan kom nie, maar wanneer Hy kom moet ons gereed wees.

Om voorbereid te wees, is nie oordraagbaar van een persoon na ‘n ander nie. Ons kan nie die koninkryk van God binne gaan met iemand anders se “olie” nie. Ons moet ons eie voorraad hê en dit kan ons direk deur die Heilige Gees van onsDrie-enige God kry.

Gebed: Here, help ons om altyd waaksaam en gereed te wees om ons Here Jesus Christus te ontmoet wanneer Hy weer kom. Amen

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-‘n-dag

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.