Gedagte vir die dag: Wees getrou aan die Here jou God en sy gebooie

Argieffoto (Foto: Aaron Burden/Unsplash)

“Julle moet die Here julle God navolg en Hom vrees en sy gebooie hou en na sy stem luister en Hom dien en Hom aanhang” (Deuteronomium 13:4).

Skrifgedeelte
Deuteronomium 13:4

Oordenking

Goeie leiers is nie noodwendig altyd godvresende leiers nie. Moses waarsku teen vals profete. Hulle lei nie na die ware God nie. Inspirerende mense het soms nuwe idees wat goed lyk, asof dit die jongste nuus uit die hemel is. Die profeet Jeremia (23:30) waarsku ook: “Daarom, sê die Here, is Ek teen die profete wat herhaal wat ander sê en dan voorgee dat dit van My af kom. Kyk, sê die Here, Ek is teen dié profete wat hulle eie stories vertel en dan sê: Die Here sê so. As hulle in my raadskamer gestaan het, sou hulle my woorde aan my volk meegedeel het en my volk van hulle verkeerde koers af laat wegdraai het, van hulle sondige dade af.” Van die Tien Gebooie wil baie mense nie meer veel hoor nie. Ook nie in eredienste nie, en in die daaglikse lewe word die wet van God nie meer as rigsnoer eerbiedig nie. God is nie teen nuwe idees gekant nie, maar Hy wil hê dat jy moet onderskei tussen eg en vals. Vra dus vrae voordat jy te opgewonde raak wanneer jy nuwe idees hoor.

Daar is vandag nog vals profete. Die verstandige mens sal die dinge wat hy hoor aan die Woord van God meet (vgl. Deut. 13:18). Die woord “wet” hou vir baie mense ʼn onaangename klank in. Dit roep herinneringe op van ʼn oorgodsdienstige opvoeding en van lang vervelende Sondae wat met allerlei “mag nie’s” verbygesleep het. Die God van die Ou Testament is dan die God van toorn en oordeel, terwyl die God van die Nuwe Testament die God van liefde en genade is. Hiermee word die Bybel in twee geskeur. Die Wet van God begin nie met weerlig en bliksemstrale nie, maar met evangelie, naamlik: “Ek is die Here julle God wat julle uit Egipteland uit die slawehuis uitgelei het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.