Gedagte vir die dag: Wees ʼn genadehawe

unsplash-sonneblomme-vreugde-lag-stiltetyd.jpg

Foto: unsplash- Antonino Visalli

“Ek is Christus se ambassadeur hier op aarde. Ek verteenwoordig Hom op elke plek waar ek kom” (2 Korintiërs 5:20).

Skrifgedeelte
2 Korintiërs 5:20

Oordenking
God hoef nie sy Seun aarde toe te gestuur het om vir ons met sy bloed te betaal nie, maar Hy wóú, want Hy het ons lief. Omdat Hy ons so oneindig liefhet, bewys Hy elke dag aan ons genade. Ongeag waar ons gister was, sê Hy vanoggend weer vir ons: Jy is veilig by My. My seun het reeds vir jou betaal. Bely jou sonde en weet dan: Ek het jou steeds lief. En jy bly my kind. Altyd.

As ons iets besef van die grootheid van ons Heiland se verlossingsdaad en die mate waartoe God oor-en-oor sy genadekleed om ons vou, kan ons nie anders as om ook sommer net meer genadig teenoor ander te wees nie. Soos Johan Smit sê: Genade kan nie in ʼn vertoonkas gesit en gebêre word nie. Dit moet soos koring fyngemaal, verwerk, geëet en gedeel word.

Die vraag is: Hét ons regtig genoeg genade in ons harte vir ander? Of is ons ook dikwels soos die skuldeiser wie se skuld afgeskryf is, maar wat te hard was om diegene te vergewe wat aan hóm geld geskuld het?

  • Hierdie oordenking verskyn in Net soos jy is deur Milanie Vosloo. Dit word goedgunstiglik deur die Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.