Ps 75:5- Vir die hooghartiges sê Ek: Moenie hooghartig wees nie, en vir die goddelose: Moet jouself nie verhef nie!.
“Daar bestaan nie iets soos God nie en die Bybel kan glad nie vertrou word nie,” het sommige ongelowiges besluit. Hulle is nie gewillig om eerlik na die waarheid te soek nie. “Ek het klaar besluit. Moenie my met feite probeer verwar nie!” Dit is skokkend om op die internet te lees wat sommige van hierdie verwaande geleerdes kwytraak. Hulle vind plesier daarin om neer te sien op die arme drommels wat nog aan die Bybel en aan God glo. “Vra vir so iemand: Sê nou jy moet een donker nag in die middestad wees, en jy is ver van waar jou motor parkeer is. Jy sien ‘n groep jongmanne met leerbaadjies in die straat afkom en besef dat hulle jou van jou motor gaan afsny. Sal jy minder bang wees as jy geweet het hulle kom nou van ʼn Bybelstudiegroep af?” skryf iemand anders op die internet. Die antwoord is voor die hand liggend. Natuurlik. Ons besef dat die veragte Bybel mense se lewens verander. Dit verander misdadigers in goeie burgers. Dit verander onbetroubare mense in mense op wie jy kan staat maak. Ons het vandag weer die kans om na die Woord van die Here te luister. Die duiwel is doodbang dat ons daar sal wees, en sal alles probeer om ons daarvan weg te hou. Sonder die Skrif word ons geloof swak. Maar met die Bybel groei ons geestelik en word ons helde van God. Kom ons wees nederig genoeg om by die Here te gaan leer.
Gebed: “Leer my, Heer, u regte weë. Wys die regie pad my aan. En maak my gewillig om uit te leef wat U vir my wil sê.”
Bron: Uit die Beek – Attie van Wijk