Gedagte vir die dag: Wees vol vreugde

Psalm 98:4,5 – Sing uit volle bors Psalms vir die Here, almal wat op hierdie aarde is. Loop oor van blydskap. Sing, speel musiekinstrumente; laat alles in een groot simfonie voor die Here opklink.

Hierdie lewe het baie rede vir baie mense om met lang gesigte rond te loop. Hierdie lewe het egter baie meer rede om opgewonde te raak, te sing en te spring propvol blydskap en vreugde. As jy om jou kyk, lyk dit egter of die meeste mense fokus op die negatiewe en met lang gesigte deur die lewe gaan, bedruk en beswaard. God leef! Jesus het uit die dood opgestaan! Jy is meer as ʼn oorwinnaar saam met Christus. Dit maak nie saak wat jou omstandighede is nie. Dit maak nie saak watter houe of klappe die lewe na jou kant uitdeel nie. Niks kan die waarheid van ʼn lewende God wat jou onvoorwaardelik liefhet van jou af wegneem nie. Kies om anders na die lewe te kyk. Sien ʼn slag die bome, gras en blomme. Kies doelgerig om die mooi dinge in die lewe raak te sien. Waardeer vir ʼn slag jou gesondheid en jubel en juig. Dink aan hoeveel dinge jy as vanselfsprekend aanvaar en word vervul met God se volheid en vreugde. Jou blydskap en vreugde lê in Hom.

Dankbaarheid is die hemel self. – William Blake

Gebed: Here, as ek stil sit en dink aan al u goedheid en trou word ek daardeur oorweldig. Dankie vir soveel dinge wat ek as vanselfsprekend aanvaar. Dit is slegs u genade, liefde en trou. Ek loof U met ʼn hart vol vreugde.

Bron: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

H J Bester ·

Ons is so meegesleur deur die daaglikse sorge van die lewe dat ons God se goedheid, genade en liefde nie raaksien nie. Wanneer ons egter opkyk, sien ons eers raak hoe goed dit inderdaad met ons gaan – alles genade en liefde van ons Liewenheer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.