Gedagte vir die dag: Werk vir Jesus

Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie, omdat julle weet dat julle van die Here as beloning sal kry wat Hy belowe het. Christus is die Here in wie se diens julle staan. Kolossense 3:23-24

Gister het ons Werkersdag in Suid-Afrika met ‘n openbare vakansiedag herdenk.  So dit is toepaslik dat ons vers vandag op werk fokus.

John F Kennedy is op 20 Januarie 1961 as President van die VSA ingehuldig. Hy sal vir altyd onthou word vir een sinnetjie in sy inhuldigingstoespraak: “Ask not what your country can do for you, ask what you can do for your country.”

Hoekom dit nie aanpas vir jou eie situasie nie?

“Moenie vra wat jou werkgewer vir jou kan doen nie, vra wat jy vir jou werkgewer kan doen.”

In ons Bybelvers lees ons dat dit nie saak maak wat ons doen nie, maar wel hoe ons dit doen. Anders gestel ons moet alles wat ons doen van harte doen.

Dit is nie altyd moontlik om gemotiveerd en entoesiasties te bly en om al die probleme en stres wat met jou werk gepaardgaan, te hanteer nie. Simon (Petrus) het dieselfde frustrasies beleef.

“Meneer,” antwoord Simon, “ons het die hele nag deur geswoeg sonder om iets te vang, maar op u woord sal ek die nette uitgooi.” En toe hulle dit doen, het hulle so ‘n groot klomp vis gevang dat hulle nette wou skeur. Lukas 5:5-6

Ons kan hier iets leer. Selfs wanneer ons hard werk en geen sukses behaal nie, moet ons steeds volhard – ons moet die nette weer uitgooi! Ons moet uithou en aanhou.

Paulus het selfs ‘n waarskuwing vir diegene wat hulle oorgee aan kantoorpolitiek – “Maar julle byt en verskeur mekaar; pas op dat julle mekaar nie later heeltemal verslind nie.” Galasiërs 5:15

As Christene moet ons egter onthou dat dit nie saak maak hoe moeilik ons werksomstandighede soms is nie want per slot van rekening werk ons nie vir mense nie, maar vir die Here – en ons God is aan niemand iets verskuldig nie.

Gebed: Hemelse Vader help my om vandag by die werk my beste te gee. Mag my werksetiek van betrokkenheid en toewyding tot eer en verheerliking van u Naam getuig. Amen.

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.