Gedagte vir die dag: Word stil

Markus 6:31 – “Daar was baie mense wat gedurig gekom en gegaan het, sodat Jesus en sy dissipels selfs nie kans gehad het om iets te eet nie. Hy sê toe vir hulle: “Kom julle alleen saam na ‘n stil plek toe en rus ‘n bietjie.”

Die dissipels keer terug van hulle sending nadat Jesus hulle twee-twee uitgestuur het om mense tot bekering te lei en siekes gesond te maak. Hulle kom verslag doen aan Jesus, maar word so deur die mense oorval dat daar skaars tyd is om te eet. En dan neem Jesus beheer oor die situasie en Hy sê: “Kom julle alleen saam na ‘n stil plek toe en rus ‘n bietjie.”

Jesus maak tyd vir afsondering ten spyte van sy vol program, maar ook júís omdat sy program so vol is. Dis hierdie perspektief wat ons sukkel om te snap – om méér tyd vir stilwees te maak wanneer ons program druk raak; om meer tyd in afsondering deur te bring.

Hierdie tye vir stilwees gaan nie vanself te voorskyn kom nie. Dit moet geskep word. Daar moet ʼn wilsbesluit geneem word om dit te maak. Daar moet fisies “gehokaai” word. In ʼn vorige huis waar ons gebly het, kon ʼn mens snags duidelik hoor hoe groot vragmotors van ʼn hoë rat moes afrat om by die rooi verkeerslig te stop. So moet ons op gereelde basis “afrat” en afskaal om rus te vind. Dis net dan wat ons in staat is om perspektief te behou en krag te herwin.

Gebed: Here, ek wil rustig raak. Ek wil in u teenwoordigheid bewus word van rus en van u krag. Ek wil opnuut verfris word deur u nabyheid. Ek wil ophou jaag en my gees oopstel om u seën in my lewe te ontvang. Amen

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.