Gedagte vir die dag: Word weer kind

kinders

Foto: Argief.

“Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle. Dit verseker Ek julle: Wie die koninkryk van God nie soos ’n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.” Hy het [toe] die kindertjies … geseën. (Markus 10:14-16)

Iemand sê nou die dag: “Dit is vir seker moeiliker om vandag as 200 jaar gelede te glo, tegnologie het mense van God losgemaak en dit is vir hulle makliker om op hul eie insig te vertrou as op Hom.” Ja, ons leef inderdaad in die tyd van die rede, ons wil alles met ons verstand uitredeneer en verstaan. Dit is nie noodwendig sleg nie, want God het vir ons verstand en ’n vrye wil gegee en ons moet hierdie gawe uit God se hand gebruik. Die feit is dat ons nie in hierdie lewe al die antwoorde op ons kwelvrae sal kry nie, ons gaan ook nie alles verstaan wat in ons en ander se lewe gebeur nie. Ons hoef ook nie, want God wil hê ons moet ons sekuriteit en vertroue in Hom stel en nie in ons eie bekwaamheid nie. Jesus sê ons moet weer soos kindertjies word. Dit is nie vir ’n kind belangrik om alles te verstaan nie omdat vertroue die bepalende faktor is. Jesus wil hê dat ons met daardie soort kinderlike geloof in Hom moet glo. Selfs wanneer ons redeneer en beplan moet ons dit in afhanklikheid van God doen.

Wanneer Jesus sê ons moet weer soos kinders word, sê Hy ons moet Hom absoluut vertrou. Kinders het geen meriete om op te roem nie, daar is nie sprake van verdienste nie, alles wat hulle ontvang is net blote genade. Sonder dat hulle dit verdien, wil Jesus hulle seën. Om weer soos kinders te word, is om God onvoorwaardelik te vertrou.

In die Bybelse tyd was kinders nie hoog geag nie, maar Jesus wys in sy lewe op aarde dat hulle vir God belangrik is. Destyds het kinders in die oë van die wêreld nie getel nie, Jesus maak dit duidelik dat hulle welkom in sy koninkryk is. Selfs Jesus se dissipels het gemeen dat Hy eerder sy tyd met vername leiers in gesagsposisies moet deurbring. Dit was egter glad nie vir Jesus nodig om sy posisie te verbeter nie. Hy is immers God, en Hy wou praat met almal wat Hom nodig het.

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ilse Ferreira ·

Dalk die heel belangrikste vers in die Bybel oor hoe ons moet dink – nie in teologiese terme nie, nie in dogmatiese denke nie.

Krymeerkinders ·

Vreeslike belangrike vers in die Bybel. Veral vandag waar kinders nie hoog geag word nie. Skraap selfs die moed bymekaar om meer kinders te kry, want hulle is vir God belangrik. As daar nie kinders is nie kan hulle die Koninkryk nie ingaan nie. Twee kinders is nie instandhouding nie – dit is uitwissing.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.