Gedagte vir die dag: Wys hulle hoe

familieTit 2:7 – In alles moet jy self vir hulle ‘n voorbeeld stel van goeie werk, suiwerheid in die leer, waardigheid in gedrag.

“Hierdie tekenprogram is baie eenvoudig. Jy sal dit binne ‘n uur kan baasraak,” vertel ‘n sendeling uit Madagaskar. Ek laai die program toe af. “Ai tog, ek het nie al hierdie ingewikkelde lesse nodig nie. Ek kan dit nie alles onthou nie, ek wil buitendien net eenvoudige tekeninge maak,” sug ek terwyl ek die nuwe rekenaarprogram aandurf. Ek wens dat iemand wat die program ken. Langs my wil kom sit en gou vir my wys wat ek moet doen. Moenie vir my sê nie, wys my. Die mense van Kreta het nie ‘n goeie reputasie gehad nie, soos ons reeds in die vorige hoofstuk gelees het. Hulle het geen goeie rolmodelle gehad nie. Die oplossing is nie om lesings te gee nie. Paulus wil hê dat mense mekaar moet wys hoe om te lewe. Titus moet dus nie net goeie lering gee nie. Hy moet rolmodelle oplei. Die ouer mans en vrouens moet die regte leiding gee (Tit 2:2- 3). En Titus moes weer vir hulle ‘n rolmodel wees. Hy moes self goeie werk doen. Hy moes die boodskap van die Bybel duidelik en suiwer uitlê. Hy moes homself waardig gedra. Hy is elke dag fyn dopgehou. Die meeste mense lees nie die Bybel nie, maar hulle lees ons. Hulle wil sien hoe ons eie lewe verander. Dit sal hulle oortuig van die waarheid van ons boodskap. Dit is ook waar van ons kinders. Hulle sien gou raak as ons woorde en ons dade nie ooreenstem nie. Dan is hulle oortuig dat ons huigelaars is, en kies om anders as ons te wees. Dikwels lei dit hulle op ʼn dwaalspoor. Leef dus wat jy glo!

Gebed: “Here Jesus, in my eie krag kan ek nie my lewe verander nie. Kom verander my deur u Heilige Gees.”

Bron: Uit die Beek – Attie van Wijk

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.