Gedagte vir die dag: Wyse mense soek Hom steeds

Matt 2:1-2: Jesus is in Betlehem in Judea gebore tydens die regering van koning Herodes. Na Jesus se geboorte het daar sterrekykers uit die ooste in Jerusalem aangekom en gevra: Waar is Hy wat as koning van die Jode gebore is? Ons het sy ster sien opkom en ons het gekom om aan Hom hulde te bewys”.

Daar is ʼn stuk misterie wat hierdie sterrekykers uit die ooste omring. Daar is ʼn sterk tradisie dat hulle oosterse vorste was. Die aanduiding is dat hulle ryk was – veral as ʼn mens op hulle geskenke let. Hierdie sterrekykers was antieke astronome. Teenoor die moderne wetenskap van astronomie, sal hulle dalk nou eerder as astroloë beskou word – as sterrewiggelaars. In die beoefening van hulle primitiewe wetenskap het hulle egter sekere waarnemings gemaak. Daar is geen aanduiding dat hulle godsdiens of kennis van Bybelse profesieë enige rol gespeel het nie. Die beoefening van hulle wetenskap het hulle na Jesus toe gelei.

Hoe tragies dat sommige wetenskaplikes vandag juis deur die wetenskap van God vervreem raak. ’n Mens sou dink dat die wonder en misterie van God en sy skepping al hoe meer onweerlegbaar word hoe verder jou teleskoop kan kyk en hoe meer jou mikroskoop kan vergroot. Meerdere kennis oor sowel die makro-kosmos as die mikro-kosmos maak dit vir my al hoe duideliker dat daar werklike ʼn groot en wonderlike Skepper agter alles staan.

Die wetenskap, as dit reg verstaan en in die regte konteks gesien word, behoort nie teenoor God gestel te word nie. Dit is in werklikheid deel van sy openbaring. Sy doel daarmee is om die navorser en beoefenaar te laat soek na die Een wat dit alles daargestel het. Soos die sterrekykers uit die ooste, wil God mense deur hulle beroepe en deur die wetenskap na sy besondere openbaring lei – na Jesus Christus, sy Seun.

Gebed: Maak my oë oop om U en u werke ook in my beroep raak te sien, Here. Amen.

Outeur: Dr. Isak Burger: President van AGS van SA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.