Gedagte vir die dag: Ywer vir die Here

h07-cross_sunset-102 Kon 10:16 –“Kom saam met my, dan sal jy my ywer vir die Here sien”.

“Sê my wie jou vriende is, en ek sal jou sê wie jy is,” lui die spreekwoord.
Hierdie uitspraak is nie altyd waar nie, want ons lees dat Jesus ‘n vriend van tollenaars en sondaars was, en dat hulle graag na Hom kom luister het (Matt 11:19). Sy vriendskap was nie bedoel om te wys dat Hy een van hulle is nie; Hy was hulle vriend omdat Hy vir hulle omgegee het, en hulle wou red.

Ons lees meer van Jonadab in Jeremia 35. Hy was ‘n eenvoudige man wat nooit in ‘n huis gewoon het nie, slegs in tente. Hy het sy kinders en nageslag ook geleer om soos hy te lewe en nie wyn te drink nie. Drie honderd jaar later, in Jeremia se leeftyd, het sy nageslag nog steeds so gewoon, en hulle was ‘n voorbeeld van gehoorsaamheid in ‘n tyd toe Israel die Here verlaat het (Jer 35:6). Dit was dus tot Jehu se voordeel om saam met Jonadab gesien te word. Vandag wonder ons of dit wys was vir iemand soos Jonadab om saam met Jehu gesien te word. Hoe kan so ‘n vroom mens dan vrede hê met soveel bloedvergieting? Maar dan vergeet ons dat Jehu God se instrument was om die goddeloosheid van Agab en sy huis te straf. Jehu se ywer was egter nie net vir die Here nie, maar ook vir homself. Deur al Agab se familie en vriende uit te roei, het hy die kans van teenstand grootliks verminder!
Ek wonder soms wat sal die mense in die toekoms van ons dink. Sal ons ook bekend staan as mense wat die Here ywerig gedien het, of sal mense nie seker wees of ons die Here wel geken het nie?

Gebed: “Here, maak my ywerig vir U, sodat U deur my lewe verheerlik sal word.”

Bron: Uit die Beek – Attie van Wijk

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.