Gedagte vir die dag: Gedenkteken

woestyn_klip_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Samuel het ’n klip gevat en dit regop gesit tussen  Mispa en Sen. Hy het die plek Eben-Haeser genoem, “want”, het hy gesê, “tot nou toe het die Here ons gehelp”. (1 Samuel 7:12)

Die Filistyne het die ark teruggestuur nadat ramp op ramp hulle getref het. Maar die verdrukking het nie opgehou nie. Samuel laat hulle by Mispa bymekaar kom waar hy hulle (al weer) moes leer wat “reg en verkeerd is” (v. 6). Hulle beloof (al weer) om die Here te dien. Hulle moes (al weer) vreemde gode en (al weer) die seksgodinne, die Astartes onder hulle uit verwyder. Hulle het (al weer) die Here om hulp gesmeek (v. 8). En die Here het hulle (al weer) gered deur ’n natuurwonder, ’n donderstorm, wat die Filistyne verwar het en die Israeliete in staat gestel het om hulle te verslaan.

Dit wil voorkom of die volk bykans willose “slagoffers” van die verkeerde is. En dis nie net die volk Israel nie: dis die fout van beskawings dat hulle kom en gaan en telkens dieselfde foute begaan.

Ons is ook so: ons leer en dink ons sal dit of dat nooit weer doen nie, ons het ons les geleer. Soos Samuel rig ons “gedenktekens” op dat die Here ons gehelp het. Maar ons vergeet dit weer en trap telkens in dieselfde strik. Dis een van die redes waarom hierdie ou geskiedenisse so noodsaaklik is om te lees: ons “moderne” mense herken ons telkens in daardie mense van vervloë tye. Ons beloof die Here wat gehelp het “ons sal nie vergeet nie”.

Die Here verstaan dit en luister en help maar telkens weer as ons “om hulp smeek”. Harry Francis Lyte, die agtiende-eeuse predikant van Brixham, Devon, het dit begryp toe hy, swak en siek, geskryf het: “When other helpers fail, and comforts flee / Help of the helpless, O abide with me.” Hierdie woorde het al miljoene getroos, miljoene hulpelose mense, mense met skuld, soos Israel, soos ek en jy. Die Here het tot hier gehelp. Hy sal verder help. Eben-Haeser.

Bron: In die Teenwoordigheid van God deur Izak de Villiers
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.