Gedagte vir die dag: Geduld

GoldenGate_Reint_Dykema_Dam_Water_Berg.jpg

Foto: Reint Dykema

Laat julle lewenswandel in ooreenstemming wees met die roeping wat julle van God ontvang het. Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig, en verdra mekaar in liefde. (Ef 4:1-2)

Lees Efesiërs 4:1-6

God is ongelooflik geduldig met ons. As ons die geskiedenis van God se volk in die Ou Testament lees, kan ons hierdie geduld wat God aan die dag lê byna nie glo nie. Hy is keer op keer bereid om sy ongehoorsame volk te vergewe. Gelukkig behandel God ons met presies dieselfde geduld – Hy is altyd bereid om ons nóg ’n kans te gee.

Geduld is dan ook deel van die vrug van die Heilige Gees waaroor Paulus in Galasiërs 5:22-23 skryf. Dit is dus ’n eienskap wat God by élkeen van sy kinders soek. Paulus skryf aan die Christene in Efese dat hulle altyd beskeie, vriendelik en geduldig behoort te wees en mekaar in liefde moet verdra. Ongelukkig sien ’n mens nie altyd baie van daardie geduld tussen Christene onderling nie.

Kan jy dit al regkry om geduld aan die dag te lê deur vriendelik te bly, ook al verloop dinge anders as wat jy verwag het en word daar van jou verwag om lank te wag voordat jy jou drome kan verwesenlik? Indien jý van nature ongeduldig is, kan jy die Here vra om jou geduldiger te maak.

Hemelse Vader, baie dankie vir u groot geduld met my. Ek is jammer dat ek so ongeduldig met myself én ander mense is. Maak dit asseblief vir my moontlik om beskeie, vriendelik en geduldig te wees. Amen

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.