Gedagte vir die dag: Geduldig en getrou

man_strand_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Ons vertel self met trots in God se gemeentes hoe julle volhard en glo onder al die vervolging en swaarkry wat julle verduur. Dit sal daarop uitloop dat julle waardig beskou sal word om in God se koningsheerskappy te deel. Dit is hiervoor dat julle ly. (2 Tessalonisense 1:4-5)

Nêrens in die Bybel belowe die Here ons dat dit maklik sal wees om Hom te volg nie. Hy sê: “As julle my volgelinge wil wees, moet julle julle eie ek prysgee, julle kruis op julle skouers neem, en agter My aan kom” (Matteus 16:24). God is egter getrou en ons kan met sekerheid op sy trou staatmaak om ons te red.

Die Woord van God verklaar dat die regverdiges deur geloof sal leef. Daar word gesê dat wanneer jy op jou knieë is, jy nie nog verder kan val nie.

Dis belangrik vir ’n kind van God om op God se trou staat te maak. Die Here Jesus Christus is áltyd getrou. Getrouheid en geduld gaan hand aan hand.

’n Mens moet leer om geduldig op die Here te wag, en dis waarom die kwaliteit van ons persoonlike verhouding met Jesus lewensbelangrik is.

David Livingstone, wat gehelp het om slawehandel af te skaf, het geweet hoe om op God te wag en op sy trou staat te maak. Alhoewel hy persoonlik maar min mense na die Here gelei het, het hy hom op Psalm 126:5-6 beroep, wat sê: “Hulle wat met trane saai, sal met vreugde maai. Hulle wat met trane die saadsak loop en dra, sal beslis sing van vreugde wanneer hulle die gerwe dra.”

“Ons doen die ploegwerk,” het Livingstone gesê. “Daar sal mense ná ons kom wat ’n oorvloedige oes sal maai.” Sonder die saaiwerk, kan daar nie gemaai word nie, maar ons moet dit deur ons geloof in die Here Jesus Christus doen. Beteken dit jy sal moeilikheid, twyfel, vrees en misverstande vryspring? Glad nie! Hierdie dinge gebeur, en dis juis wanneer Jesus genoeg moet wees in jou lewe, anders sal jy nie sukses behaal nie.

Dierbare Here, ek bid dat U my geduld en geloof in U sal vermeerder. Help my om U voortdurend te vertrou en te glo. Amen.

Bron:
Genade in oorvloed deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Claudine ·

Baie dankie vir hierdie wonderlike bron van geestelike kos en inspirasie. Ons land se huidige toestand smeer op ons af. Dit beïnvloed ons verhoudinge negatief met ander, ons gesinne en familie. Die onsekerheid smokkel met ons gedagtes en baie beweeg weg van hulle geloof, maar sou jy in jou swaarkry, smart en hartseer op jou knieë bly en volhard, is jy eintlik sterk. Dit is die tyd wat die Here die naaste aan jou is. Ons moet na Sy stem luister en Hy sal uitkoms bied.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.