Gedagte vir die dag: Gee dit aan

Argieffoto (Foto: Chris Hilbert/Pixabay)

Wie sy naaste verag, doen sonde; wie medelye het met die mens in nood, met hom gaan dit goed. Wie altyd op kwaad uit is, is op die verkeerde pad; wie goed doen, geniet liefde en trou. (Spreuke 14:21-22)

“In the time we have it is surely our duty to do all the good we can to all the people we can in all the ways we can” – William Barclay.

God verwag van ons om ’n seën vir ander mense te wees. Ons mag nie slegs teologie praat nie, ons moet dit leef. Ons is God se hande en voete hier op aarde. Die wêreld het maar bra selfsugtig geraak en die meeste mense dink deesdae net aan hulleself. Ek wil jou vandag uitdaag om anders te wees. Wees jy die een wat goed doen aan ander. Gee ’n bord kos vir iemand wat honger is, laat die ander motor eerste ry al is dit jou beurt, luister daar waar iemand ’n oor nodig het … en dank God vir die geleentheid. Dink hoeveel beter die lewe sal wees as almal weldoeners is. Komaan, gee dit aan. Paulus roep ons op in Galasiërs 6:9-10: “Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel. Solank ons die geleentheid het, moet ons aan almal goed doen, veral aan ons medegelowiges.”

Vra God biddend hoe en waar Hy jou en jou gawes wil gebruik. As gelowiges moet ons lewe anders lyk as die van ongelowiges, die karaktertrek van omgee onderskei ons van die res van die wêreld. Om vir ander om te gee bied waarlik sin en betekenis aan die lewe.

Jesus se boodskappe het die mensdom se alledaagse waardesisteem kom omkeer. Hy sê om jouself belangriker as ander te ag, is die wêreldse manier van doen. Wie ’n leier in God se koninkryk wil wees, moet bereid wees om ander te dien. Soos Jesus in Markus10:43b sê: “Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees …”

Iemand het eenkeer gesê: “Ons mag nooit net vir ander bid nie, ons moet ook nadat ons van ons knieë af opgestaan het, God se werk gaan doen.”

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.