Gedagte vir die dag: Gee hulle hulle sin!

sonondergang_voels_vlieg_stiltetyd.jpg

Foto: kids-myshot.nationalgeographic.com

Toe sê die Here vir Samuel: “Gee toe aan hulle versoek. Stel ’n koning oor hulle aan”. (1 Samuel 8:22)

Daar is die ou waarskuwing wat ’n mens soms laat dink: Pas op vir wat jy bid, want die Here mag presies dit vir jou gee, en op die ou end kan jy agterkom dat jy jou lelik misreken het.

In hierdie geval staan die Here die volk se wens toe; teen Samuel se duidelike waarskuwing in. Hieruit sou groot dinge gebore word, en ook herhaalde kwaad. Dis weer die misterie van God, die geheimenis van sy besluit en die vreemde draaie in sy paaie. Hy sê deur Samuel: “Julle het gekies. Julle sal kry wat julle gekies het.” Samuel het dit so oorgedra en die familiehoofde van die volk huis toe gestuur.

Ons het op ’n keer ’n jongman gehuur om in ons tuin te werk. Hy was lank getrou op sy pos. Op die dag na mnr. Nelson Mandela uit die gevangenis vrygelaat is, het hy gegloei van verwagting. Dalk het hy gereken sy dae van werk in die tuin was verby. Toe het hy baie lank weggebly. Op ’n dag het vriende hom na ons gebring, jammerlik vir sy lewe verkreupel na ’n bende-aanval. Geen nuwe staatsman kon hom red nie. Soos die Ierse digter W.B. Yeats vir ’n arbeider gesê het wat gevra het of Ierland ooit vry sal wees: “Yes, Ireland will be free, but you will still be toiling on the roads.” Want “vryheid” is vir padwerker, tuinier en professor dieselfde: ’n vrye gees, vrygemaak in die Here.

Samuel wou hê die volk moes vry wees om slegs aan God gehoorsaam te wees. Maar God weet wat in die mens is, soos Jesus gesê het. Hy het hulle lief en sy gedurige wrywing met sy volk, soos sy gedurige wrywing met my en jou, is ’n “liefdestwis”, ’n “lover’s quarrel”, die natuurlike uitinge van ’n durende verhouding. Hy sal nie onbewus wees dat ons verkreupel is nie. Hy sal ons voorthelp. En heelmaak.

Bron: In die Teenwoordigheid van God deur Izak de Villiers
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.