Lees: Job 3
Wat ek gevrees het, het oor my gekom; waarvoor ek bang was, het my getref. Ek het geen rus en geen vrede nie, geen verposing nie, net angs. (Job 3:25-26)
’n Tweede faktor wat spanning verhoog, is vrees. Ek ken niemand wat baie bang vir iets is wat nie mettertyd gespanne en angstig word nie. Toe ’n reeks rampe die arme Job tref, vervloek hy sy geboortedag en slinger ’n reeks waaroms na God se kant toe. Hy verwyt God boonop dat alle dinge waarvoor hy bang was, hom getref het en hom van sy vrede beroof het, sodat daar vir hom net angs oorbly.
Alle mense het dinge waarvoor hulle bang is. Ongelukkig is dit ook so dat baie van hierdie vrese (veral as ons op hulle sit en broei) later realiseer. Gelukkig is die teenoorgestelde ook waar. As jy jou vrese wat jou so gespanne maak, na God toe bring, sal Hy hulle vir sy rekening neem en vir jou sy vrede in ruil daarvoor gee.
Aan die einde van sy boek leer Job hierdie les: God het die hele tyd geweet wat Hy doen. Hy wou Job wys hoe groot sy almag is. Hy het die hele tyd Job se beswil in gedagte gehad. Wanneer Job dit besef, verootmoedig hy hom voor God en erken hy dat hy uit sy beurt uit gepraat het deur hom so deur sy vrese aan die neus te laat lei.
Jy kan gerus ook ophou om bang te wees – God weet wat jy nodig het en sal dit vir jou op sy regte tyd gee.
Here, ek sien nou dat my klomp vrese eintlik niks anders is as ’n mosie van wantroue in U nie. Wys my dat hulle onnodig is en gee vir my u vrede. Amen.
AMEN!!
God is oneindig groot dankie O Heer dat u my vrese en onsekerheid in U hande neem en my vry maak van my bekommernisse in U Naams onwil AMEN!!!!!!!!
Ja Here, dankie dat ons kan rus in Jesus en weet dat U ons nooit sal verlaat nie en dat U alles onder beheer het. U ken ons behoeftes. Ons wag op U Here. U tydsberekening is altyd perfek. Op U alleen vertrou ons.