Gedagte vir die dag: Gee meer!

hande.jpg

Argieffoto

Lees: Deuteronomium 15:7-14

Gee vrylik aan jou broer wat arm is, en moenie sleg voel omdat jy vir hom gegee het nie, want juis omdat jy vir hom gee, sal die Here jou God jou voorspoedig maak in alles wat jy doen en aanpak. (Deuteronomium 15:10)

In Deuteronomium 15 gee Moses God se voorskrifte aan die volk deur. Indien daar arm mense onder hulle is, moet hulle vrygewig teenoor sulke mense optree en hulle die dinge gee wat hulle nodig het. Hierdie opdrag kom saam met ’n belofte: Die mense wat dit doen, sal God voorspoedig maak in alles wat hulle aanpak.

Spurgeon het gesê dat ons vir ander behoort te voel – in ons beursies! As daar nou een trapklip is wat jy hierdie jaar nie mag verontagsaam nie, is dit jou bydrae tot die uitbreiding van God se koninkryk. Daar was nog nooit in die verlede so ’n groot onderskeid tussen ryk en arm in ons land nie. Terwyl groot koppe in die regering belastinggeld by die miljarde verkwis, gaan miljoene mense in Suid-Afrika elke aand honger en blyplekloos slaap. Indien jy met hierdie boek in jou hand sit, het jy heel waarskynlik ’n huis, ’n motor en oorgenoeg kos in jou yskas. Maak ’n slag jou oë oop en kyk na die mense om jou. Vind uit of daar mense in werklike nood naby jou is, en dóén iets daar aan. As jy nie arm mense ken nie, gaan hoor by jou plaaslike gemeente of daar nie projekte is waartoe jy kan bydra nie. Daar is min dinge wat ’n mens so gelukkig maak as om te gee; moenie langer wag om ander te begin help nie.

Vader, ek besef dat ek nog veels te selfsugtig lewe en veels te min gee. Wys my waar ek kan help om ander mense se lewens beter te maak. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.