Gedagte vir die dag: Gee ons ’n koning!

Kerk_ou-gebou_Stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Hulle het vir Samuel gesê: “Gee ons tog ’n koning om oor ons te regeer”. (1 Samuel 8:5-6)

Hoe tragies, maar hoe realisties! Die volk het gesien dat Samuel oud word en hulle het geen vertroue in sy seuns gehad nie: “U kinders is nie soos u nie. Stel nou liewer ’n koning oor ons aan” (v. 5). Vreemd dat die Godsman Samuel se seuns dieselfde dinge gedoen het as Eli se seuns. Dit moes vir Samuel ’n aaklige werklikheid gewees het, hoewel hy, anders as Eli, hulle sekerlik daaroor aangespreek het en vir hulle ’n uitnemende voorbeeld gestel het.

Sou dit so wees dat daar niks groei in die skaduwee van ’n groot boom nie? Dit was die woorde van my ou leermeester-redakteur wat my gewaarsku het om nooit ouers aan hul kinders te oordeel of te kritiseer nie. Maar hoe kinders ontwikkel, ook naby ’n voorbeeld van edel menswees, is ’n misterie: soms neem hulle die uitnemendheid verder, soms is hulle “gewoon”, soms aan die dwaal.

Die volk het Samuel se seuns verwerp. Hulle het ’n nuwe koning gesoek, byna soos Napoleon sinies gesê het: “Dink julle ek het my veldslae gewen vir die sogenaamde ‘rewolusie’!? Nee, die volk wil ’n vors hê!”

Hoe wonderlik sou dit nie wees as ’n “rewolusie” of ’n “vors” nie nodig was nie, dat elkeen op sy eie gedrag let onder die oog van die Here! Groot denkers soos Calvyn en sir Thomas More (en Samuel) het gedink dis reeds op aarde moontlik. Maar dis die ideale staat van die Christus, en ten spyte van krom en skewe paaie van mense en regerings is God aan die werk na iets ewigs en blywends.

Intussen glinster God in Sion as ons Koning en sing ons elke dag sy eer saam met die engele. Die blote gedagte is genoeg moed vir vandag.

Bron: In die Teenwoordigheid van God deur Izak de Villiers
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

marius ·

En wat se konings het die mens nie bo Hom uitgekies nie …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.