Gedagte vir die dag: Gee vandag ’n glimlag

kind-lag-4.jpg

Argieffoto

Vriendelikheid maak ’n mens gelukkig. Goeie nuus is goed vir jou gesondheid. (Spreuke 15:30, Die Boodskap)

Ons praat heel dikwels sonder ’n enkele woord. Mense sien ons oë, ons gesigsuitdrukkings, ons stuurse of glimlaggende mondhoeke lank voordat ons nog enige iets gesê het. In daardie vlietende sekonde wanneer iemand na ons kyk, praat ons liggaamstaal duisend woorde en is ons reeds besig om aan iemand se hart te bou … of te breek. Maak ons óf ’n positiewe óf destruktiewe impak op sy/haar lewe.

Dink maar net hoe mense reageer wanneer jy die dag omgekrap, vies of bot is. Hoe hulle jou probeer vermy … so halfsonder-om-op-te-kyk by jou verbysluip. Daarteenoor sal jy vele situasies kan herroep waar jy ’n verrassende reaksie gekry het toe jy goed gevoel het, geglimlag het, gegroet het … dalk ’n vriendelike woord uitgedeel het. Die wonder van aangenaam, vriendelik wees en in ander belangstel, is dat ons op daardie oomblik ’n oop kanaal van ons Vader se liefde is: Van dié soort liefde wat mense ophef, hulle laat blom en aan hulle hoop gee.

Jou naaste is die mense met wie jy op ’n bepaalde oomblik te doen het. Gaan leef vandag oral met God se glimlag teenoor die wêreld. Teen vanaand is daar ’n klomp harte wat ánders klop. Anders dink. Anders voel. En jy? Jy sal met ’n stuk sagte vrede aan die slaap raak.

Vader, maak my ’n verlengstuk van u dierbare goedheid, u sagte liefde, u uitreik-God-wees.

Bron:
Jou voetpad na vrede deur Milanie Vosloo
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.