Gedagte vir die dag: Gee

hande_stiltetyd_oud_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

As julle gee, sal julle ontvang. (Lukas 6:38)

Van kleintyd af word dinge aan ons gegee. As babas en kleuters is ons daarop ingestel om te ontvang sodat ons kan leef en grootword.

Later breek daar ’n tyd aan wanneer ons moet leer om te gee en dit is nie maklik nie. Ons was so gewoond daaraan om net te kry. Skielik is daar ander maatjies wat saam met ons speel en nou ons speelgoed wil hê. Wat ’n skok! Skielik is dit nie meer so ’n plesier om te lewe nie. Nou moet ek begin deel. En hierdie leerproses verloop glad nie sonder trane nie. Die ergste is dat gee vir die res van ons aardse lewe vir ons ’n uitdaging sal bly.

Een van die eerste dinge wat Jesus sy dissipels geleer het, was om te leer gee; daarom het Hy heelwat hieroor gepraat. Dit was ook moeilik vir hulle om te verstaan, al het Hy vir hulle gesê dat Hy uit liefde vir mense Homself gegee het.

Hy noem egter dat as hulle gee, daar ook vir hulle gegee sal word. Hier is darem ’n ligpunt. Jy gee nie net om te verloor nie; as jy gee, ontvang jy iets terug. Ja, sê Jesus, en jy sal ’n goeie maat ontvang; ingestamp, geskud en propvol. Die onderliggende simboliek is dié van ’n Nabye-Oosterse graanmark. Maar oral in die wêreld vind jy dieselfde. Elkeen wat iets weet van koring-, vrugte- of groente-verkope weet dat ’n houer of sak wat losserig gevul word baie minder inhoud het as een waarin die produkte ingedruk, saam geskud en bygevoeg word. Jesus sê as ons oorvloedig gee, sal ons net só oorvloedig terugontvang. Dan sluit Hy af deur te sê: “Met watter maat julle ook al meet – klein of groot – dit sal gebruik word om te meet wat julle sal terugontvang” (v. 38).

Kom ons gee met ’n oop hart en oop hande. Sommer net omdat dit goed en lekker is.

Bron: Jesus se woorde vir elke dag deur Jan de Wet
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Yvonne ·

Amen…dankie Here vir al die baie seeninge wat ek uit U hand ontvang….sonder dat ek dit verdien

yahneh ·

Waak teen gee met die doel om te ontvang. Volg jou hart, jou innerlike stemmetjie… daar is niks meer bevredigend as om te gee nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.