Gedagte vir die dag: Geen ander naam

Bybel_kruis_2_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Handelinge 4:5-12

“Deur watter krag en in wie se naam het julle dit gedoen?” (Handeling 4:7)

Dit blyk dat die Jode toe nie van Jesus ontslae geraak het nie. Sy aantal volgelinge neem eenvoudig toe. Elke dag word hulle meer en meer.

Dit vra nogmaals vir ’n noodvergadering van die Joodse godsdienstige elite. Hoeveel keer het hulle nie al moes koppe bymekaarsit oor dié irritasie nie! En nou moet hulle hulle afvra: Hoe gebeur dit dat dit steeds voortgaan? Het ons dan nie van die laspos ontslae geraak nie? Watse stories oor wondergenesings en nuwe bekeerlinge loop dan nou nog rond?

Die apostels moet voor hulle verskyn, kom rekenskap gee: Wie gee julle die reg? Waar kry julle die krag?

Petrus, eens die grootmond wat nooit lekker kon begryp wanneer hy wát moes sê of nie sê nie, kom op die been. Met oortuiging en met ’n nuwe asem spreek hy die hoëlui toe en sê: Ons het ’n siek man gesond gemaak – en julle is nie bly nie. Ons het dit in die Naam gedoen van Een wat deur julle vermoor is en wat deur God uit die dood opgewek is – en julle glo dit nie. Ons bou bloot op die hoeksteen wat deur julle weggesmyt is.

En, voeg hy by, daar is geen ander naam waardeur God verlossing bring nie. Julle het Hom verneder; God het Hom verhoog. Só lyk die krag van God. Só lyk jul beperkings, grootmenere! Julle dink dat julle oor almal en alles ’n sê het. Julle mors jul asem. Julle oorskry jul bevoegdheid, oorskat jul krag. Daar is maar een Naam – en dit is nie julle s’n nie.

Here Jesus, ook ek dra met trots en dankbaarheid u Naam. U krag is ook myne.

Bron:
Uit die Beek 2018 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Dries ·

Daar is geen! ander weg tot ons redding as Jesus nie. Dis slegs deur Hom!

Genieve ·

Dankie vir U naam Here want dis die naam wat ons kom verlos het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.