Gedagte vir die dag: Geen bekommernis – te goed om waar te wees?

vrede_berg_see_arms-uitgestrek_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Julle moet julle dus nie bekommer en vra: “Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?” nie. Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. (Matteus 6:31-32)

Dit klink amper te goed om waar te wees: Jesus sê ons moet ons nie bekommer nie want God weet immers wat ons nodig het. Om ons totale afhanklikheid van God te bely is nie altyd maklik nie. Ons wil tog so graag in beheer van ons lewe wees, maar God vra dat ons Hom volkome sal vertrou en tot die besef kom ons het Hom bitter nodig. Jesus beklemtoon: Geseënd is hulle wat weet hoe afhanklik hulle van God is. Nie: Geseënd is hulle wat finansieel sterk staan of met wie dit altyd goed gaan nie, nee: Geseënd is hulle wat weet hoe afhanklik hulle van God is. As brose mense kan ons nie anders as om God geheel en al in alle omstandighede te vertrou nie.

Jesus vra: Wie kan deur hulle te bekommer hulle lewe met een enkele uur verleng? Bekommernis is nie ’n las wat God ons opgelê het nie – het jy geweet dat kommer uiters nadelige gevolge op jou liggaam het? Dit breek die liggaam af, want dit lei daartoe dat ’n mens nie kan eet (of te veel eet) of slaap nie; dit neem jou gedagtes oor en belemmer jou vermoë om produktief te wees. Bekommernis kan jou lamlê; dit is soos ’n skommelstoel: dit hou jou besig maar bring jou nêrens nie.

Gee vir God die eerste plek in jou lewe, verander jou bekommernisse in gebede en vertrou Hom vir die regte uitkoms. Moenie dat materiële dinge en ander behoeftes en begeertes jou lewe oorheers en die belangrikste plek in jou lewe inneem nie.

Kenners reken dat 90% daarvan waaroor ons ons bekommer, in elk geval nooit met ons gebeur nie. Terloops, medici het tot die gevolgtrekking gekom dat die “streshormoon” kortisol, wat ons liggaam afskei wanneer ons ons bekommer, ons gewig laat optel – genoeg rede om nou dadelik op te hou met stres!

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

lw ·

Wonderwerke gebeur wanneer ons in totale afhanklikheid in Jesus staan met n opregte en persoonlike verhouding met Hom. Suid-Afrika moet besef dat net Christus ons kan red. Dat Hy sal ingryp op Sy tyd en dan sal dit met mag en mening wees. Ons deel op aarde is om die pad gelyk te maak vir Hom deur verdraagsaamheid, vriendelikheid en liefde vir ons naaste te kweek sodat Sy woord ontvanklik raak by die nie-gelowiges.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.