Gedagte vir die dag: Geen resep nie

strand_wolke_blomme_NathanSteyn.jpg

Foto: Nathan Steyn

Ek is ellendig en in pyn. Laat u redding, o God, my beveilig. (Psalm 69:30)

Mense kan nie met ’n vyfpunt-plan aanmekaargelap word nie. Elkeen van ons is uniek in die manier hoe ons dink, optree, op gebeure reageer, seerkry … en heelword.

In haar boek On Death and Dying gee Elizabeth Kübler-Ross vyf stadiums van rou: ontkenning, woede, onderhandeling, depressie en aanvaarding. Natuurlik kan ons hierdie vyf fases in gedagte hou wanneer ons of ander deur ’n rouproses gaan. Maar deesdae word daar egter al hoe meer aanvaar dat daar juis nié ’n resep vir die rouproses is nie, want mense, dit wat met hulle gebeur, hul individuele persoonlikhede en hul hárte verskil radikaal van mekaar. Al wat ons kan doen, is om met groot liefde na daardie stukkendwees-mens uit te reik. Te luister. By hulle te wees.

Ds Braam Klopper gee die volgende riglyne wat jy kan volg as jy so iemand wil help:

  • Gee erkenning aan sy/haar verlies. Weet dis is vir hom/haar onbeskryflik moeilik.
  • Gee hulle toestemming om openlik en intens te rou.
  • Verseker hulle dat hul reaksie en emosies normaal is.
  • Gun hulle hul rou en gee genoeg tyd daarvoor.

Stukkendwees is intens. Heelword ook. Onthou: Jy hoef net te wees omdat die Gees self sal genees.

Leer my om ruimte vir heelword te gee sodat U kan heel, op u tyd en wyse …

Bron:
Jou voetpad na vrede deur Milanie Vosloo
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.