God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het. (Rom 5:5)
In Handelinge 9:1-31 lees ons die verhaal van Saulus van Tarsus. Hy was op pad na Damaskus om die Christene te vervolg. Skielik het ’n lig uit die hemel op hom geskyn. Hy het op die grond neergeval en ’n stem vir hom hoor sê: “Saul, Saul, waarom vervolg jy My?” Hy het gevra: “Wie is U, Here?” Die Here het geantwoord: “Ek is Jesus. Dit is vir My wat jy vervolg.”
Jy kan jou net indink hoe bang Saulus moes gewees het. Daar was hy, dalk op sy perd se rug, op pad na Damaskus om die Christene te vervolg. Die God van daardie einste Christene ruk hom toe van sy perd af om hom te roep om die evangelie van Jesus Christus te verkondig.
Saulus het opgestaan, maar hy kon nie sien nie. Hy was vir drie dae blind. Deur die dissipel Ananias het die Here vir Saulus gewys dat Hy hom as sy instrument gekies het om sy Naam aan die heidene en die volk Israel te verkondig. Hy het gehoor hoe baie hy vir Jesus sou ly.
Wanneer jy God na jou hoor roep, dalk deur die fluistering van sy Gees in jou gees, moenie sy stem ignoreer nie. Moenie die werk van die Gees deur ongehoorsaamheid stuit nie. Dan sal God jou nie deur ’n Damaskus-ervaring hoef te laat gaan om jou te roep nie. Luister na die Gees wat jou roep en lei. Gehoorsaam sy stem wanneer jy Hom met jou hoor praat.
Here, vergewe my vir die kere toe ek die stem van u Gees in my hart geïgnoreer het. Ek wil die Gees se leiding volg. Amen