Gedagte vir die dag:  Gees van genade

woud_strale_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees 1 Korintiërs 2:11-16

Die Gees wat ons ontvang het, is … die Gees wat van God kom. So weet ons wat God ons uit genade geskenk het. (1 Korintiërs 2:12)

Daar is nogal baie wat ons van God se genade moet weet. Onberekenbaar baie. Ja, ons kop is heeltemal te klein en ons gees gans te bekrompe om die volle omvang van die Goddelike genade te begryp. Daarom het ons iets anders nodig om dit te bepaal. Of, beter gesê, iemand anders. Iemand Gans Anders.

En ons het Hom gekry. Ontvang. Uit God se hart: sy Heilige Gees.

Dit is hierdie Gees wat ons help om, onder meer, God se genade te verstaan. En Hy het, met respek gesê, ’n groot taak om ons hier- van te leer. Daar is immers soveel wat ons eers moet afleer. Al die genadeloosheid wat ons in hierdie wêreld aantref en self uitstraal, byvoorbeeld. Al die verstokte ongevoeligheid, al die onbetrokke liefdeloosheid. Die meedoënloosheid wat ongesiens in ons hart kom nesskop het.

Boonop moet die Gees ons van al die voorwaardes verlos wat dikwels eerste in ons kop kom wanneer ons die woord “genade” hoor. Daardie lysie wat deurlopend só begin: Ás ek so en so maak, dán sal God …

Dit is hierdie foutiewe inligting wat ons gees met die jare ver- samel het wat God se Gees eers moet verdryf. Dan moet Hy ons, soos kinders, leer wat “geskenk” (v. 12) beteken, en “aanvaar” (v. 14). Hy moet ons leer hoeveel “onsin” (v. 14) ons in ons gees ronddra.

Hierdie Gees leer ons nuwe waardes (vgl. v. 15), en nou kyk ons ’n tweede keer na hulle wat ons pad kruis. En verwonder ons, soos dit by begenadigdes hoort, aan Hom wat hulle oor ons pad stuur.

Leer my, o Gees, van God se genoegsame genade. Wys my hoe om dit te vier.

Bron:  Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johan ·

Dankie Here dat U in ons lewens is. Dankie Here vir al U genade en seëninge. Amen!

Koos Richards ·

Dankie Heer vir u onbeskryflike genade. U is groot!!!

Exta ·

Dankie Here vir U Heilige Gees wat al die onsin uit ons lewe haal en ons verander van binne. Amen

S.M. ·

Lof die Skepper van alles wat is – wat alles geskape het! Jesus Christus se Gees is waarlik die ware bron van Sy vrede.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.