Gedagte vir die dag: Geestelike anoreksie

Natuur_sonstrale_wolke_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees: Psalm 37:3-5

Vertrou jou lewe toe aan die Here. Vertrou Hom, en Hy sal vir jou sorg. (Psalm 37:5)

In die fliek Shirley Valentine kyk die hoofkarakter oor haar lewe terug en sê teleurgesteld: “I got lost in all this unused life.” Sy is ongelukkig met hoe haar lewe uitgedraai het. Die lewe het aan haar ’n paar klappe uitgedeel. Sy het geen vreugde in haar huwelik nie en is ’n slaaf in haar huis en vir haar man. Haar lewe het vasgeval in verlore en ongebruikte tyd. Sy bestaan net! Voel jy vandag dalk ook so? Voel dit of die lewe net by jou verbygaan?

In Psalm 37 lees ons van die Here se versorging. Ons lewe is so besig dat ons dikwels ons geestelike versorging afskeep. Jy is te moeg om Bybel te lees. Jy het nie krag om Sondag ’n erediens by te woon nie. Jy sien nie kans om na ’n Bybelskool of sel groep toe te gaan nie. Jy raak aan die slaap wanneer jy met die Here praat. En stadig maar seker, sonder dat jy dit agterkom, raak jy geestelik arm. Jy raak verlore in jou besig-wees. Jy begin na jouself soek en raak onvergenoegd met die lewe, want jy het geestelik verhonger. Jy glo en sê al die regte dinge in gesprekke, maar hierdie geestelike anoreksie is die oorsaak van jou innerlike ongelukkigheid. Jy is op jouself gefokus en nie op die Here nie. Jou verhongering maak jou selfgesentreerd en selfsugtig en laat jou swaarkry.

Dalk is dit tyd dat jy gaan stilstaan en jouself met manna uit die Woord versorg. Lees net een vers en oordink dit die hele dag. As jy ’n blaaskansie neem, sê net een sin vir die Here. Dalk kan jy Bybel lees terwyl jy vir die kinders in die kar wag. Jy het net vyf minute se stilte nodig wat jou die hele dag sal voed. Vertrou op die Here, Hy sal vir jou sorg.

Here, ek is geestelik honger. Ek het u versorging nodig. Ek ver trou op U om my weer te help vreugde vind. Amen.

Bron:
Met ‘n lied in die hart deur Marietjie Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.