Gedagte vir die dag:  Geestesoë

See-strand-rus-boekevat.jpg

Foto: flowercampings.com

Lees Efesiërs 1:17-19

Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het. (Efesiërs 1:18)

Mense wat met hul geestesoë kan kyk, is begenadigdes. Hulle kan verder sien as ander, hulle kan hulle beter verbeel, hulle droom groter as ons.

Hulle is ook broser as die meeste. Hul geestesoë word maklik toegeslaan of toegeskel. Hulle word dikwels uitgelag, verneder. Dit wat hulle sien, word bevraagteken en soms selfs verkleineer.

Daarom was dit vir sulke mense sekerlik ’n troos toe Paulus skryf dat hy vir hulle bid. Dat hulle nog beter sal kan sien. Dat hulle die omvang van God se sorg nog makliker sal raaksien, dat hulle die hoop daarin sal herken en hulle aan die rykdom vergaap. En dat hulle hulle sy enorme Goddelike krag kan verbeel.

Ons, die gewone gelowiges wat net so ver soos ons eie bekommernisse en begeertes kan sien, is heelwat aan hierdie mense ver- skuldig. Dit is hulle wat ons wankelrige geloof voed en wat op allerlei kreatiewe maniere help om kleur in ons kommergevulde lewe te bring. Hulle is God se kosbare geskenke aan ons, niks minder nie as sy profete hier tussen ons. Nie omdat hulle die toekoms kan inkyk nie, maar omdat hulle God in die alledaagse hede raaksien. En Hom dan aan ons, hul stiksienige susters en broers, uitwys.

Daarom moet ons nie ophou om die Here vir hulle te dank nie. Ons moet hulle koester en seker maak dat hulle ’n prominente plek in ons geloofgemeenskap het. Hulle moet hier al die vryheid hê wat hulle nodig het om ons-met-die-dowwe-oë te help. Ons weet tog dat wanneer Paulus na “geestesoë” verwys, hy dit eintlik met ’n hoofletter bedoel: Geestesoë.

U weet mos, Here, hoe ek sukkel om U te sien. Baie dankie vir hulle wat my op allerlei opwindende maniere hiermee help.

Bron:  Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.