Gedagte vir die dag:  Gegroet!

Boekevat Foto - Sonsopkoms oor dam

Foto: Christo Brits

Lees Romeine 1:1-7

Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus! (Romeine 1:7)

Laat ons nou nie mooi broodjies vir mekaar bak nie: Paulus se Romeinebrief is moeilik. Loodswaar. Die sinne is lank, die beel- de dikwels duister. Die redenasies is erg ingewikkeld. Maar ons lees dit, al is dit langtand en sug-sug. Die geleerdes laat ons dan verstaan dat dit noodsaaklik is om dié brief te lees. Dat dit deur- slaggewend is vir ons verstaan van die Jesusverhaal.

Maar om watter enkele rede sal ons dan op die vooraand van Kersfees hieruit wil lees? Kan ons nie maar ’n psalm lees of sing nie? Sodat al wat leef kan juig en te midde van blye galme sit en wag op die Fees van die Verskyning?

Ag, nou ja …

Kom ons waag dan maar met die eerste sewe verse van hierdie brief. Dit is bloot ’n langerige inleiding, oor hoe Paulus geroep is om die evangelie van God te verkondig (vgl. v. 1), die verhaal van Jesus wat as mens uit die Dawidgeslag gebore is, maar op grond van sy opstanding uit die dood deur die Gees as God se Seun aangewys is (vgl. v. 2-4). En oor hoe die gelowiges in Rome geroep is om aan Jesus Christus te behoort (vgl. v. 7).

Eers dan kom Paulus by die genade-en-vrede-groet. En só, hier, vind ons die waarde van hierdie Romeineverse vir ons wat vandag, twee duisend jaar later, Oukersaand vier: Ons hoor groetwoorde in God se Naam.

Al klink dit effens outyds en al sal ons dit vandag eerder wil hoor as iets soos “goeiedag, my kind!”, bly dit die beste woorde denkbaar om ’n fees mee te begin: Genade en vrede vir julle!

En ek sê: Goeiedag, liewe Heer! Dankie dat U nie agter moeilike woorde en ingewikkelde redenasies skuil nie. Dat ek u stem juis vandag so helder hoor.

Bron:  Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.