Gedagte vir die dag: Gehoorsaam die Here se opdragte

Wolke_wederkoms_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

As julle My liefhet, sal julle my opdragte gehoorsaam. (Johannes 14:15)

Een van die ouer seuns by ons kinderhuis het my eendag kom sien om oor sy toekoms te praat. Hy het pas sy laaste skooljaar voltooi en moes begin werk soek. Genadiglik het hy werk gekry as ’n ambagsleerling om ’n elektrisiën te word, waaroor hy baie opgewonde was. Ek het vir hom gesê dat hy die groot wêreld gaan betree, waar daar sekere reëls en wette is wat hy sal moet gehoorsaam as hy suksesvol wou wees.

Hy sou nie meer sy eie ding kon doen nie. Hy sou die reëls moes volg, betyds by die werk wees, netjies aantrek en nederigheid toon. Dit sou vir hom aanvanklik moeilik wees; hy sou waarskynlik goed deurloop onder die elektrisiën wat hom oplei, maar hy sou net diep moes asemhaal en deurdruk. As hy dit alles doen, het ek vir hom gesê, sou hy ’n suksesvolle man word.

Nadat ek met hom gepraat het, het ons Esegiël 20:18-20 gelees: “Daar in die woestyn het Ek ook hulle kinders gewaarsku om nie in hulle ouers se voetspore te volg en hulle nie met die afgode te besoedel nie. ‘Ek, die Here, is julle God,’ het Ek vir hulle gesê. ‘Wees gehoorsaam aan my voorskrifte, doen my wil en beskou my Sabbatdae as heilig, want dit is ’n teken van die verhouding tussen My en julle. Dan sal julle weet dat Ek, die Here, julle God is.’”

Wat sê God hier? Hy sê as jy Hom regtig liefhet, moet jy dit bewys deur sy opdragte te gehoorsaam. Ek is ’n praktiese man. As jy lief is vir my, moet dit nie bloot vir my sê nie; wys my dat jy my liefhet.   Baie mense word afgesit deur Christenskap as gevolg van die huigelary in die kerk. Christene maak op Sondae asof hulle so vroom is, maar vir die ses dae daarna betoon hulle geen deernis of liefde vir ander nie.

Ons hele leefstyl móét aan die Woord van God voldoen. Gehoorsaamheid aan Hom is die enigste manier om te bewys dat jy waarlik ’n kind van God is.

Vader God, U weet dat ek U liefhet. Ek vra dat U my sal reinig. Vul my opnuut met u Heilige Gees en hernuwe my. Gee dat ek dit elke dag in my dade en lewenswyse sal demonstreer. Amen.

Bron:
Genade in oorvloed deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Maria ·

Ek U lief met my hele tot my interlikeste hart, al my gedagtes, al my krag al is dit min en my siel self deur die vlees van die sondige natuur

Eish ·

( … en beskou my Sabbatdae as heilig, want dit is n teken van die verhouding tussen My en julle…”
Die vierde gebod. Mag die Hemelse Vader ons genadig wees want ons weet nie wat ons doen nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.