Gedagte vir die dag: Gehoorsaam die Koning

lighuis_Stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Die bevele van die Here dui die regte koers aan: dit bring blydskap. Die gebod van die Here is helder: dit gee insig. (Psalm 19:9) – Deel 1

Mense hou nie daarvan om beveel te word nie. Hulle voer nie graag opdragte uit nie. Hulle voel dat dit hulle aan bande lê, hulle vryheid inperk en hulle aan reëls verkneg. Daarom probeer mense al hoe meer wegskram van die wet van die Here. Hulle wil liewer met God in vennootskap gaan, selfs met Hom onderhandel, maar nee, hulle wil nie deur ’n wet gebind word nie. Dit is te burokraties en kan selfs veroorsaak dat ’n mens in ’n vreesverhouding met God sal leef.

Dit kan natuurlik so wees, dit wil sê as ’n mens vergeet wie die God is wat hier ter sprake is. Hy is vir seker nie ’n hartelose tiran wat mense teen hulle sin inperk en verslaaf nie. Hy is die Verbondsgod wat mense uit genade kies om deel van sy uitverkore volk te wees sodat Hy hulle kan seën. Hy is die God wat ons as ’n Vader en Herder leer ken. Hy is ryk aan ontferming en barmhartigheid. En as Hy bevele gee, is dit soos dié van ’n bekwame afrigter wat presies weet wat die spelers moet doen om as wenners uit die stryd te tree. God wil hê ons moet wenners wees!

Luister daarom maar met aandag na die digter: Die bevele van die Here dui die regte koers aan. En dit bring blydskap. Dit is tog duidelik: Die bevele van die Koning is tot jou voordeel! Jy loop nie alleen die regte pad nie, jy ervaar dit ook as ’n vreugdepad.

Bron:
In die skadu van die Allerhoogste deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.