
Foto: charismanews.com
Toe die volk hoor dat die ramshorings die teken gee, het hulle die aanvalskreet uitgeskreeu. Die mure het inmekaargestort. Almal het oorgeklouter, reguit die stad in. Hulle het die stad ingeneem. (Josua 6:20)
Ons moet doen wat God van ons vra, al maak dit soms nie sin nie. Die Here het vir Josua gesê hy moet die volk opdrag gee om sewe keer om Jerigo se mure te stap (Josua 6). Toe moes hulle op die ramshorings blaas en die aanvalskreet gee, en dan sou die mure ineenstort. Ek was al by Jerigo en het die oorblyfsels gesien van daardie mure. Dit was geweldige dik mure, maar dit het ineengestort omdat God vir die mense ’n opdrag gegee het en hulle gehoorsaam was.
Wat sê God vandag vir jou om te doen? Dit is dalk iets wat totaal lagwekkend klink. Dit maak dalk nie sin nie, maar vertrou Hom en doen dit. Ons moet doen wat God van ons vra – niks meer nie en niks minder nie. Ons moet gehoorsaam wees aan wat God ons roep om te doen.
Jare gelede het ons weens droogte finansiële uitdagings gehad op die plaas, en ek het gevoel dat die Here sê ek moet die hele trop vleisbeeste verkoop wat ons oor jare opgebou het. Die seuns was baie ontsteld daaroor. Ons het die beeste verkoop en ons skuld gedelg. Skaars ’n week later het bek-en-klou-seer uitgebreek in Natal. As ons nie gedoen het wat die Here ons beveel het nie, sou ons nie net die trop beeste verloor het nie, maar ook die plaas.
Doen net wat God jou vra om te doen, en laat die res oor aan God. God is aan jou kant. Luister net vir sy stem en wees gehoorsaam.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
1 Kommentaar
Here ek is van nature n rebel….help my om U stem te hoor en te vertrou, gehoorsaam te wees…Amen