Gedagte vir die dag: Gehoorsaam met liefde

God

Foto: Wattpad.com

Die liefde vir God bestaan daaruit dat ons sy gebooie gehoorsaam. Sy gebooie is ook nie moeilik om te gehoorsaam nie, want enigeen wat ’n kind van God is, kan die sondige wêreld oorwin. En die oorwinning wat ons oor die wêreld behaal het, is deur ons geloof. (1 Johannes 5:3–4)

As jy as kind van God Hom liefhet, sal jy sy gebooie gehoorsaam. Dis nie moeilik nie, want kinders wat die Vader liefhet, het respek vir sy Wet en sal vasberade wees om getrou te bly aan sy gebooie. Ons Hemelvader is tydloos en die morele riglyne wat ons in die Tien Gebooie vind, bly deur die eeue heen van toepassing – selfs al meet jy dit aan die mees byderwetse lewensuitkyk.

Dink net: As jy God liefhet, sal jy nie tot vreemde gode en godsdienste aangetrokke voel nie. Jy sal nie meer soek na ander ‘waarhede’ nie. Jy sal niks bo Hom stel nie – nie jou werk of jou sport of jou studies nie. Jy sal nie jou huis of kar of geld aanbid nie.

Jy sal nie die Naam van die Here as reklame gebruik of om mense mee te mislei nie. Jy sal nie sy Naam as skelwoord oor jou lippe bring of dit verdra dat ander dit doen nie. Jy sal Sondae kerk toe gaan en rustig raak, en as jy nie anders kan nie, die dag heilig deur God ook met jou werk te dien.

Jy sal jou onderwerp aan gesag en aan gesagspersone, want God het hulle oor jou aangestel. Moord, egbreuk, diefstal en valse getuienis is immers direkte uitvloeisels van die versteuring van ons gesagspatrone. Misdaad ontspring uit naywer en jaloesie. Jy sal jou seëninge tel en tevrede wees met dit wat jy het. God leen dit vir jou en eendag moet jy dit in elk geval teruggee.

Geen beskaafde samelewing kan behoorlik funksioneer sonder wette nie. Ons sien die gevolge van wetteloosheid. Orde begin by gehoorsaamheid. Geen mens mag hom bo die wet verhef nie. Hoe voel jy oor God se Wet?

Here, ek wil gehoorsaam in u voetspore volg, langs U loop en enduit volhou. Hou asseblief my hand styf vas.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek  Joy! Digital  

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Theuns ·

Die Bybel, Die Woord van God, bly maar die beste morela handleiding wat daar is vir jonk en oud! Daarom moet ons aandring dat ons skole die Christelike Godsdiens Onderrig in skole behou! Amen.

marius ·

so waar,die bybel is ons handleiding tot die lewe en die ewige lewe.

sandra ·

wat van die 4de gebod???? mag ons as mens die gebooie aanpas soos ons wil. die Sabbatdag is saterdag

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.