Gedagte vir die dag: Gehoorsaam tot die dood

sonondergang_voels_vlieg_stiltetyd.jpg

Foto: kids-myshot.nationalgeographic.com

Hoewel Hy die Seun was, het Hy deur alles wat Hy gely het, geleer wat gehoorsaamheid is. En toe Hy volmaaktheid bereik het, het Hy vir almal wat aan Hom gehoorsaam is, die bron van ewige saligheid geword. (Heb 5:8-9)

Jesus het die lewe van ’n swerwer gely, moes dikwels ongerief deurmaak en het geen huis of besittings van sy eie gehad nie. Hy weet ook dat daar aan die einde van sy lewe ’n geweldige lyding op Hom wag. In die tuin van Getsemane smeek Jesus sy Vader dringend om die lydensbeker by Hom te laat verbygaan, maar uiteindelik berus Hy in God se wil.

Jesus het deur sy lyding in die wêreld en aan die kruis vir óns kom leer wat werklike gehoorsaamheid aan sy Vader beteken. Omdat Hy gewillig was om op só ’n manier gehoorsaam te wees, is Hy nou vir ons ’n Bron van ewige saligheid. Deur sy gehoorsaamheid maak Hy dit vir ons moontlik om God se kinders te wees.

God kom vra hierdie selfde soort gehoorsaamheid van ons. En deur sy Heilige Gees stel Hy ons ook in staat om in sy voetspore te stap.

Is jy al uit vrye wil bereid om jou wil ondergeskik te stel aan God se wil? Om werklik gehoorsaam te wees aan sy opdragte al sou dit vir jou swaarkry en seerkry beteken? As jy nog nie absoluut gehoorsaam is aan God nie, is hierdie Paasfees dalk die geskikte tyd om vir God se opdrag ja te sê.

Here Jesus, dit is vir my maar baie moeilik om so gehoorsaam soos U te wees, veral as dit my iets gaan kos. Dankie dat U my daarmee sal help. Amen

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.