Gedagte vir die dag: Gehoorsaamheid bring eer

brug_see_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Iemand wat in my diens wil staan, moet My aanhou volg; en waar Ek is, daar sal my dienaar ook wees. As iemand in my diens staan, sal die Vader aan hom eer betoon. (Johannes 12:26)

Jesus lê die Christelike lewe hier in Johannes 12:26 baie mooi uit! Eerstens, jy kan eenvoudig nie Jesus dien en nié doen wat Hy sê nie. Daar bestaan nie so iets nie. Jy kan nie doen wat Jesus sê en nie doen wat Hy doen nie. Hy is die standaard.

Tweedens, jy kan nie doen wat Jesus sê – Hom volg – en nie wees waar Hy is nie. Hy is baie na aan die Vader (Joh 1:18). Dit is waarheen Jesus ons neem. Jy kan nie baie na aan die Vader wees terwyl jy Jesus weerstaan nie.

Derdens, jy kan nie aan Jesus onderdanig wees en nie die eer van God op jou lewe hê nie. Die uiteindelike eer van God is om ons in die ewigheid te verwelkom nadat ons getrou gebly het tot die einde toe, maar daaglikse onderdanigheid aan die Seun bring ook die eer van God op ons daaglikse lewe. Wat ons met die Seun maak, bepaal hoe die Vader teenoor ons optree. Eer die Seun en die Vader eer jou. “As iemand My liefhet, sal hy my boodskap gehoorsaam uitvoer; en my Vader sal hom ook liefhê en Ons sal na hom toe kom en by hom tuisgaan” (Joh 14:23).

Vader, wat ’n wonderlike voorreg bied Jesus my!

Bron: Wees oor niks besorg nie deur Riekert Botha
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.