Gedagte vir die dag: Gehoorsaamheid is aanbidding

Foto: pixabay.com

Aan dié wat met volharding aanhou om goed te doen, en op hierdie manier streef na die toekomstige heerlikheid, eer en onsterflikheid, sal Hy die ewige lewe gee. (Romeine 2:7)

As ’n mens Paulus se argument volg, is dit duidelik dat hy hier nie bloot praat van “goeie dade” nie. Paulus weet wie Jesus is. Hy praat van ’n lewe toegewy aan gehoorsaamheid aan Jesus. God se definisie van aanbidding is gehoorsaamheid: “Wat verkies die Here: brandoffers of gehoorsaamheid? Gehoorsaamheid is beter as offers; om te luister is beter as die vet van ramme” (1 Sam 15:22).

Dié wat ewige heerlikheid, eer en onverganklikheid soek deur gehoorsaamheid aan Christus sal dit kry. Daar is nie ’n ander manier om dit te kry nie. Paulus sê vroeg in dié brief: “Vir hierdie Goeie Nuus is ek allesbehalwe skaam. Dit is immers God se krag wat hier aan die werk is. Dit bring verlossing vir elkeen wat glo” (Rom 1:16). Gehoorsaamheid aan die evangelie is gehoorsaamheid aan Christus, want die evangelie is die boodskap oor Christus. Hierdie gehoorsaamheid het ’n lewe tot gevolg wat van onderdanigheid aan God getuig. Dit is hiérdie lewe wat deur God geëer word. Paulus verstaan die gesag van God: “As ek dan inderdaad die Goeie Nuus verkondig, is dit vir my geen besondere prestasie nie. Ek is verplig om dit te doen. Wee my as ek dit sou nalaat!” (1 Kor 9:16). Die Bybel in Afrikaans 1933/1953 gee dit weer as: “want die dwang is my opgelê.” Die gesag van God is nie ligtelik nie. Om goed te doen in God se oë is om die Seun te gehoorsaam. Dit is die nou poort en smal weg wat na die lewe lei.

Vader, mag ek deur Jesus oorvloedig vrug dra!

Bron: Wees oor niks besorg nie deur Riekert Botha
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.